top of page
Uitmelkbos

HVD TERUG IN DIE STOEL?


“Nieman Reports”, tydskrif van Harvard se Nieman Foundation for Journalism, het vir sy “spring edition” ‘n sarsie Amerikaanse oud-redakteurs gevra wat sal hulle verander as hulle weer in die stoel sou sit.

Vandat ek in 1977 by Harvard weg is, lees ek “Nieman Reports” met aandag. Daardie ouens doen ‘n lot dinkwerk vir elke uitgawe. Die betrokke uitgawe het my uitermate geboei. Die eerlike gevolgtrekking waartoe ek gekom het, is dat ek nie met ambisieuse skemas of grandiose visioene weer in my ou stoel sou gaan sit nie. My resep sou eintlik doodeenvoudig wees.

Ek sou elke dag alles inwerp wat ek kan; vroeg kantoor toe gaan, laat loop; elke uitdaging wat op my lessenaar kom, my beste aandag gee; baie dink oor my koerant; self die voortou probeer neem met kreatiewe insette oor inhoud en aanbieding.

Ek sou ‘n bloudruk van die ou HvD probeer wees, soos ek myself gesien het. Onopwindend? Helaas, ja – vir die nuwe generasie slimkoppe met die wonderlikste verbeeldingsvlugte, moet dit seker maar vervelig klink. Ongelukkig is dit maar soos my ou gryskop werk: doen die basiese reg, die res sal vir jou bygevoeg word.

Wil darem byvoeg dat ek nie so ‘n uitnodiging sou aanvaar as ek nie die volle vertroue van die direksie en topbestuur (en natuurlik die redaksie) sou geniet nie. Vergeet dit dat ek vir voorskrifte – selfs “taktvolle” suggesties – te vinde sou wees. Die redakteur sou die redakteur wees. Die man met die laaste seggenskap oor sy produk. Die baas. “The buck stops here”.

Ek sou ook aandring op die voortsetting van die joernalistieke waardes wat ek steeds aanhang, twintig jaar nadat ek die deur van die mooi Volksblad-redakteurskantoor met sy kiaat-houtpanele in April 1992 vir laas agter my toegetrek het. Die nuwe benadering van onderdanigheid teenoor die “korporatiewe beeld” – soos ek sekere nuushanterings takseer – sou by die venster uitvlieg. Ek sou oor die binnewerkinge van die Pers (wel, deesdae is dit mos Media24) openhartig en vrymoedig wou rapporteer.

Die Lisa Albrecht-storie (haar weggaan onder ‘n wolk en haar opgewonde mededeling nou dat sy met die Vrystaatse Universiteit oor ‘n pos “onderhandel”) sou ek bepaald ingrypend anders gehanteer het as die redakteurs en joernaliste van die nuwe millennium.

Ook in die hantering van ander nuus sou outydse waardes geld: slaan die groot storie hard, maak die skouers oop, maar strewe na korrektheid, billikheid en ewewig. Met Joost se indiskresies sou my koerant byvoorbeeld nie tegelyk rapporteur en aanklaer geword het nie. “Rapport” het dit verkeerd gehanteer deur self deel van die storie te word. Punt. Uit-en-uit-reklamemakery vir mense soos Pieter Dirk-Uys se nuwe “shows” sou snippermandjie toe gaan, nie op die voorblad kom nie.

Absoluut niks nuuts onder die tweede redakteurskap van HvD nie? Wel, seker tog iets. Meer as wat my inklinasie destyds was, sou ek waarskynlik kreatiewe toekomsdenke hopelik nie weer as my persoonlike domein beskou nie. Ek sou my mense meer aanmoedig om hul gedagtes vleuels te gee, en sou graag in die posisie gestel wou wees om hulle daarvoor te beloon, veral oor aspekte soos al die digitale uitdagings wat dalk ietwat bo HvD se vuurmaakplek is.

Maar ek sou in die eerste plek redakteur van my koerant wees. Die gedrukte weergawe sou my eerste en laaste “liefling” wees. Geen mens kan twee here dien nie, en wie op twee stoele probeer sit, val dikwels tussen al twee deur kaplaks op die grond.

Natuurlik sou die huidige base so ‘n ou tradisionalis, verknog aan outydse denke, nie eens vir ‘n redakteurspos oorweeg nie. Ek kan nogal aan ‘n paar mense dink wat taamlik verlig sou wees dat ‘n tweede HvD-skof ‘n ondenkbaarheid is en sal bly.

Naskrif: Na my destydse blog oor haar skielike verdwyning uit die Media24-firmament het Lisa Albrecht taamlik onstoke soos volg gereageer: “Eerstens: My dienste by Media24 is nie ‘getermineer’ nie – ek het bedank. Tweedens: Ek begin op 1 April by ‘n ander mediamaatskappy werk. Derdens: Die reeds-getekende bedankingsooreenkoms wat deur Media24 aan my voorgelê is, dwing my tot stilswye tov die redes vir my bedanking. Ek hoop u vergewis u hiervan voordat u voortgaan om agterdog te saai.”

Niks wat ek destyds geskryf het, is deur me. Albrecht se reaksie verkeerd bewys nie. Ek staan steeds by elke woord. Haar mededeling oor die moontlikheid van ‘n pos in Bloemfontein werp in elk geval interessante lig op haar “tweedens”. Wat het dan geword van daardie 1 April-storie?

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page