top of page

‘HUPSE OUMA’ SE VOET!

Uitmelkbos

Vrotterig deur ‘n vakleerling gebalsem?

Sonder die meisies se toestemming sal ek nie hul name en telefoonnomers op die web uitblaker nie, want ‘n mens weet nooit watter ongure tipes besoek dalk jou webwerf met onheilige motiewe nie.

Met absoluut geen moeite of inspanning nie sal ek egter in my onmiddellike vriendekring hier op Melkbos tien name kan neerpen van 70-jariges wat die sogenaamde”hupse ouma” van die TV-program The Coconuts maar taamlik afgeremd en oor die muur sal laat lyk.

As ‘n erkende wisselvallige TV-kyker is ek ongelukkig van die program The Coconuts onbewus. Ek verlaat my dus op ‘n foto en berig in die dagblad Die Burger se Vermaakbylae op Vrydae. Daarin maak ek toe kennis met die aktrise Elize Cawood as “70-jarige Afrikaanse ouma” in The Coconuts. Die foto is hierbo. Dit is genoeg om enige mens van daardie jare se gal bitter te maak.

Kyk, die grimeerkunstenaressie wat vir daardie karkikatuuragtige drogbeeld van ‘n “hupse ouma van 70” verantwoordelik is, is seker ‘n bloedjong, onervare kind met allerlei windskewe persepsies oor ouderdom in haar warkoppie, ewe as penkop-verslaggewers en drawwerjie-verslaggeefsters wat so graag in koerante mense van 60 “bejaard” begin noem. Dit gebeur gereeld.

Nou moet me. Cawood my nie kwalik neem nie – sy is aan daardie voëlverskrikker-voorkoms seker persoonlik totaal onskuldig – maar vir my lyk sy meer na ‘n 100-jarige wat deur ‘n vakleerling by ‘n begrafisondernemer bra vrotterig gebalsem is.

Maar oor die volgende beskrywing uit haar mond oor die ouma-rol wat sy speel, sou ek haar darem graag onder vier oë wou spreek: “Jy hoef nie te worry hoe jy lyk nie. Jy lyk in elk geval nie meer goed nie, so what the hell!”

Dit is ‘n onthullende uitspraak wat ‘n mens laat dink dat sy aan dieselfde soort hallusinasies as die grimeerkunstenaressie ly.

Ek het gesê uit my Melkbos-vriendekring gaan haal ek maklik-maklik tien 70-jarige vroue wat in elegansie, versorging en algemene voorkoms nie vir enige vrou van tien jaar jonger hoef terug te staan nie.

As jy die net wyer span tot by skoolmaats en studentevriende (of hul gades) sit ek sommer gou-gou nog ‘n dosyn by. En mag ek maar die name Sophia Loren en Julie Andrews saggies fluister?

Alla kragtie, ek ken 80-jariges wat nog pragtige vroue is – nie sulke spektakels soos The Coconut se karikatuuragtige gogga-karakter nie.

Sou dit wees dat dit omdat dit ‘n “Afrikaanse ouma” is dat sy doelbewus so agterlik uitgebeeld word en – in die geradbraakte Afrikaans van me. Cawood – so terrible moet lyk om oukei te wees

Dit sal die belediging dubbel bitter maak om te sluk.

Namens al die 70-jarige vriendinne van hierdie gryse blogskrywer gee ek graag vir die hele ou kaboedel agter The Coconut, van vervaardigers af deur die hele rolverdeling tot elkeen agter die skerms, die lelikste denkbare teken.

Kom by mense, kom by!

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page