Elkeen het maar ‘n hunkering na ‘n heimat. Nie almal kan dit só beeldryk verwoord nie:
Hy wat sy dors by die pomp geles het,
sal terugkom vir ‘n tweede keer:
die brak gaan in die bloed sit
en die sout dors weer en weer.
Hy wat snags sy geklop gehoor het,
sal die stilte nooit só weer hoor,
sal altyd soek of hy iets verloor het
en terugloop op sy spoor.
Die digter is M.M. Walters, die Swartland se beroemdste woordkunstenaar, na my wete.
Ek loop die vers raak in Walters se uitsonderlike reisboek Die Swartland is my Tuisland, wat in 1990 deur Perskor uitgegee is. Thys Slabber van Melkbos, boer van die Swartland en seun van die Slabber na wie Slabber se Klippe op Melkbos se strand genoem is, het dit vir my geleen. Hy ken my voorliefde vir dié lang Swartlander se werk.
Die subtitel van die boek is: ‘n Nostalgiese reis deur M.M. Walters. Die boek is, soos op die agterflap gemeld, ‘n historiese reis deur die Swartland se vroegste geskiedenis, asook ‘n geografiese reis, en, derdens, ‘n reis in die verbeelding, ‘n nostalgiese terugkeer, vol heimwee, na die Swartland van sy jeug in woord en beeld.
Van die Swartland wis ek so plus-minus niks totdat ons in 1997 hier op Melkbos kom nesskrop het. Toe word Malmesbury, minder as 40 kilometer ver, skielik vir ons ‘n soort “hoofdorp” waar veral amptelike besigheid – ID-boeke, paspoorte, rybewyse en dies meer – flink afgehandel kan word. Vele Melkbossers ry met CK-registrasienommers.
Skielik ontdek ons toe, op ons voorstoep as’ t ware, die skoonheid van golwende groen koringlande, glimmend in die son; van heuwels oortrek met wingerd, ruie bossieveld, troppe beeste en vetstertskape, ‘n taal van sy eie – niemand “bgei” mos soos ‘n Swartlander nie – en die hemelse seereuk wat sommer diep in die binneland inreik as die winde reg waai en die getye saamspeel.*
Die Swartland se koring noem Walters die streek se “goue kroon” – en gespikkel met lappe ganola-geel maak daardie kroon ‘n uitstappie deur die Swartland se agterpaaie hier kort duskant oestyd in die vroegsomer inderdaad koninklik. Ná dorstyd, as die koringlande gestroop lê van hul winterglorie, breek die wingerd se malse groen deur. Waarlik ‘n plek vir elke seisoen!
Die Swartland is my Hartland, sou my persoonlike keuse vir die titel gewees het (ek hou van rym), maar dit is seker te voorspelbaar. Buitendien: Tuisland en Thys se land (Walters se voorname is Matthys Michielse) speel mooi op mekaar in.
Lees egter weer die vers hierbo. Die emosie is mos nie geografies ingeperk nie. Nee, dit gaan oor grense heen om elke tuisland (of hartland) in herinnering te roep: daardie spesiale hartsplek wat elkeen “altyd bly soek of hy iets verloor het” en waarheen hy altyd “terugloop op sy spoor” – of die water nou brak of soet is.
My geboortekontrei, Babanango in noordelike Kwazulu-Natal, is vir my so ‘n plek. Pretoria waar ek vyf goue jare lank op Tukkies was, is ook een. Bloemfontein is, ná twee gelukkige skofte van 12 jaar elk in die Rosestad, ‘n derde een. Hul waters roep my.
Maar Melkbos en die Swartland op sy drumpel – dié het in die afgelope 13 jaar ook vir my goed laat verstaan waarom M.M. Walters sy hart oor dié streek en die bekoring van koring só digterlik kan uitstort.
* Oor die kenmerkende verfrissende Melkbos-seereuk, hoor ek by ons een dominee, Francois Hanekom, ‘n wonderlike teorie. ‘n Oseanograaf het aan hom verduidelik die koue see ruik hier só sterk omdat dit soveel suurstof genereer. Melkbossers is só gesond omdat hulle só gesond asemhaal!
Kom nou, bemarkers, hier is jul kans om ons sjarmante Weskusdorpie (Koeberg en al) opnuut op die kaart te sit!
Comentários