Soos ‘n hemelse koor was dit toe die sowat 75 sterk, jong stemme van die Puk-universiteitskoor geliefde psalms, ander gewyde liedere – selfs ook Sarie Marais en My hartjie, my liefie – vanoggend (Sondag) in die karaktervolle boskerk in Skukuza laat opklink.
Natuurlik was die Magaliesburgse Aandlied op die program – dit is omtrent dié koor se handelsmerk. Ook een van Hans du Plessis se Griekwapsalms: Psalm 100. Psalm 42, Soos ‘n hert in dorre streke, het vir ‘n mooi natuurlewe-element gesorg.
Aan die einde het die koor intiem langs die kerkbanke kom stelling inneem en gevoelvol vir die versamelde Wildtuin-gemeentetjie gesing: God sy met u tot ons weer ontmoet en Laat Heer U seën op hul daal, laasgenoemde plek-plek met hande-oplegging.
Toe die 90 minute verby was, was daar staande applous, en nat oë, onder andere van mev. Tokkie van Deventer. Sy bely wel dat sy selfs ‘n traan wegpink as ‘n nuwe Pick’nPay geopen word, maar hierdie uitvoering was besonders aandoenlik.
Toe ons uitstap, het ek gevoel dis ‘n geleentheid om jou Potchefstroomse
getuigskrifte uit te haal. Vir wie ook al wou luister, het ek vertel ek het op Potch-Volkies matriek geskryf. Gimmies was die bo-dorpse skool, maar ons het hulle omtrent in alles uitgestof, veral rugby en krieket.
Hans du Plessis, die man agter die Griekwapsalms, is boonop ‘n maat. Ons het mekaar in 1976 in Cambridge, Massuchsetts, op die lowerryke kampus van die Harvard-universiteit ontmoet. Daarna is ons dikwels naweke saam op verkenningstogte New England binne. Hans was ook ‘n betroubare babawagter – in ruil vir Tokkie se lekker boerekos.
‘n Derde Puk-konneksie was ‘n meisie wie se naam ek nie sal noem nie. Miskien is sy met ‘n jaloerse man getroud. Of sy kon mooi sing, weet ek nie, maar as sy soen, het sy nie gepik-pik nie. Soos haar alma mater se koor 50 jaar later – hulle pip-pik nie as hulle die volume ooptrek nie.
Comments