top of page
  • Uitmelkbos

HOOR JY DIE KLOKKE?






Sondaars kom, sondaar kom,

Roep die klokke om en om ….


Ek wonder hoeveel keer het hierdie woorde van die digter Totius al spontaan in die gedagte gekom wanneer kerkklokke lui. In ander tale is waarskynlik ewe bekende frases wat met beierende kerkklokke geässosieer word.


In die sonore klanke van die kerklok – ‘n tradisie wat uit die vroeë Middeleeue kom – is immers iets digterliks opgesluit. Of die klokkespel die erediens aankondig wat aanstons begin, of ‘n huwelik of begrafnis, dra dit op ‘n treffende en aangrypende wyse ‘n boodskap oor – hetsy uitnodiging, vermaning, jubeling of hartseer. Dit spreek jou hart aan, of jou gewete.


Onthou die sentimentele liedjie oor Jimmy Brown. In sy lewe het die klokke drie keer spesiaal net vir hom gelui: by sy geboorte (jubelend), sy huwelik (uitbundig en vol vreugde) en sy begrafnis (droewig). Die liedjie was veral gewild aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog hier rondom 1945. Edith Piaf het dit beroemd gemaak onder die Franse titel Le Trois Cloches. Ek gaan net nou maar die Piaf-weergawe op die draaitafel sit.


In ons gemeente, die NG gemeente Melkbosstrand, is die kerkklok al jare stil, soos ek dit het om nie die gemeenskap se rus op Sondagoggende te versteur nie. Dit dui dalk op bedagsaamheid en ‘n opofferende gesindheid, maar vat tog iets weg van die kerk se kommunikasie met ‘n mensdom wat soms nodig het om herinner te word dat ‘n bron van geloofsversterking, opbeuring, troos en meegevoel binne bereik is.


In ons “tweede gemeente”, Krugerpark in Skukuza, lui die kerkklok te vroeg vir diegene wat, soos ons, van buite die Wildtuin kerk toe kom. Kersoggend het ons gesorg dat ons betyds vir die klokkespel is. Op die foto staan die tweeling, Jacob en Thomas Claassens, by Jimmy Pressley van Skukuza terwyl hy die klok van die karaktervolle Skukuzakerkie oor die personeeldorp laat galm.


Skukuza se kerkklok is waarskynlik een van min – dalk die enigste – wat aan ‘n stuk hardekoolstam hang. Die meeste is in indrukwekkende kloktorings gemonteer, soos in Notre Dame-katedraal in Parys wat onuitwisbaar in die geheue ingeprent moet wees van elkeen wat die rolprent The Hunchback of Notre Dame gesien het.


Wie sal ooit die toneel vergeet van die misvormde Quasimodo wat vir dood aan die Notre Dame se reuse-klokke swaai terwyl hy man-alleen die verwoede inval van Frollo afweer en so die mooie Esmeralda se lewe red?


Reuse-klokke? Dis miskien ietwat oordrewe. Die Notre Dame se grootste klok. Emmanuel, in die suidelike toring weeg “maar” 13 000 kilogram (so swaar soos twee olifantbulle). Daar is swaarder klokke in die wêreld.


Die swaarste waarvan ek weet, die kolossale, ses meter hoë Tsaar-klok in die Kremlin in Moskou, weeg meer as 200 000 kilogram (sommer ‘n trop olifante)! Dit hang egter nie, maar staan op ‘n gemesselde platform. Daardie enorme klok het nogal ‘n tragiese geskiedenis. Dit het nooit gelui nie, omdat dit in ‘n brand gekraak het.


Laat die Tsaarklok buite rekening. Dat die Notre Dame se Emmanuel self darem nie ‘n liggewig is nie, besef ‘n mens as jy hom met Londen se beroemde Big Ben by die Westminster-abdy vergelyk Big Ben (wat, terloops, vanjaar sy 150 ste verjaardag vier) se kloktoring is van die hoogste ter wêreld. Sy vier gesigte tel ook onder die grotes. Die meganisme van die klok self weeg egter maar net 5 000 kilogram.


In ‘n land met ‘n trotse kloktradisie, Nederland, veral Friesland, hang oral, selfs by kleinerige kerkies, menere van 2 500 kilogram en meer, vergelykbaar met die massa van ‘n jong olifantkoei. Google die woord “kerkklok” om na die klokkespel van ‘n veertigstuks van hulle te luister. Dit is verheffend.


Uit dié land kom ook ‘n stukkie klok-ironie. Die swaarste klok wat ooit daar vervaardig is, ‘n makro-ene van 36 000 kilogram, het nog nooit ‘n erediens, huwelik, of begrafnis aangekondig nie, maar is dadelik op n skip gelaai en na Tokio verskeep waar dit, soos die Tsaar-klok in die Kremlin, ‘n toeriste-attraksie is.


Bestaan ‘n kragtiger wêreldwye simbool van die Christendom se Blye Boodskap as die galmende kerkklok? Ek twyfel. Die kerkklok kan egter ook ander boodskappe doeltreffend uitdra. Dinsdag in Amerika lui hulle ter ere van die inhuldiging van daardie land se eerste swart president, Barack Obama. In Manhattan, New York, gaan ‘n hele dosynstuks opgewonde Amerikaners by die Trinitykerk aan die toue hang vir ‘n weergalose uitstorting van emosie.


In die Tweede Wêreldoorlog is alle kerkklokke in Groot Brittanje tot stilstand gebring. Hulle het slegs gelui om mense teen vyandelike invalle te waarsku.


In Suid-Afrika is ‘n veldtog deur die Anglikaanse gemeente van Waterkloof begin om kerkklokke landwyd daagliks om 12:00 te laat lui as ‘n verenigde front teen misdaad. Die idee is dat mense, waar hulle hulle bevind, om 12:00 die oë sal sluit in gebed vir die slagoffers van misdaad – en ook vir die misdadigers. Vandag het 78 klokke landwyd as deel van die veldtog gelui, lees ek op die internet,


Van misdadigers gepraat: ‘n mens weet nie of jy moet lag of moet huil oor ‘n berig wat enkele maande gelede in die Natalse koerant The Mercury verskyn het nie. Daaruit blyk dat diewe in Suid-Afrika nie eens meer eeue oue kerkklokke ontsien nie – ‘n kerkklok wat bykans 200 jaar oud is, is van ‘n kerktoring in Pinetown in KwaZulu-Natal gesteel. Die polisie vermoed dat die klok, wat in Skotland vervaardig is, aan ‘n skroothandelaar of tweedehandse winkel verkwansel sou word.


Bid jou dit aan!

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page