Vir Dana Snyman voel ek om vandag toe te roep: “Hoor-hoor, my bloedbroer!” In sy “Van Alle Kante” vanoggend in Die Burger skryf hy oor die naamlose sluipskutters op koerante se webwerwe op ‘n manier wat my laat dink hy is op die hoogte van my eie persoonlike lyding hierdie week.
Die ou lyf voel of dit in dosyne trapskrums gekarnuffel is. Onkundiges, kwaadwilliges, moedswilliges, noem maar op; almal is bo-oor my met min genade oor my poging om doodeeenvoudig net die onbetwisbare feit op rekord te plaas dat die redakteurs van my geslag nie verslaggewers verplig het om te lieg nie.
Uiteindelik het die oorsprong van daardie liegstorie, Max du Preex, met ‘n elegante systappie vinnig daarvan weggestap. Dit is rede tot dankbaarheid dat die waarheid hier tog wel geseëvier het (lees blog hieronder: ‘n Leuen begrawe). Dit maak alles die moeite werd. Nogtans voel hierdie ou ietwat mishandel in die proses van “debatvoering”. Min respek vir feite of die onderwerp ter sake is in daardie “debat” geopenbaar. Glo my.
Wat jou voel om in wanhoop te laat uitroep, is daardie alwyse eiewyses wat met hul eie agendas vir jou wil voorskryf. As jy nie hierop en hierop reageer nie, is jy ‘n lafaard! Dan blyk dit hulle begryp nie ‘n snars van waarom dit gaan nie.
Oor koerante en hul verbintenis met die Nasionale Party (wat geen geheim is nie) en oor my verbintenis met die Broederbond (wat geen geheim is nie) , het ek hoofstukke geskryf in my loopbaanboekies, Kroniek van ‘n Koerantman en In Kamera. Hoeveel diepte-artikels uit my pen is in koerante gepubliseer.
Dan wil uitdagende jong Turke (van agter skuilname) jou uit die hoogte dwing om in kort woordgrepe (“word bytes”) opnuut te antwoord op ou-ou vrae waarop uitvoerige antwoorde beskikbaar is – as hulle maar net die moeite wou doen om ‘n biblioteek te besoek.
Maar weet hulle wat en waar ‘n biblioteek is? Ek twyfel soms. In hul ywer om jou te beledig en af te kraak, tel die waarheid en bewyse van die waarheid klaarblyklik min. Een verkondig brutaal: nee dankie, hy stel nie belang om HvD se boekies te lees nie; ek sal tog net daarin my eie beul blaas. Maar dan dring hy aan op antwoorde op die naiëfste vrae, wat eintlik net onthul hoe bloedmin hy weet en hoe oningelig hy deur die lewe gaan.
My antwoord is sonder omhaal: ek sal my nie deur liggewiggies laat dwing om vir hul gerief dinge op die internet in kortbegrip weer te gee wat in harde kopie uitvoerig en beredeneerd geraadpleeg kan word nie. Vergeet dit, liewe webmaatjies, en gaan soek vir julle ‘n ander speelplek.
Van die “kommentatore” op die koerante se webblaaie het my nogal geamuseer. Ene Retha beweer sy onthou die uwe uit sy Volksblad-dae as ‘n “vet, ronde spinnekop” in ‘n fluweelbaadjie (sic) en strikdas. Behoede dit – ek had sulke fyn kleertjies nie in my kas nie. Tokkie lag haar morsdood vir die beeld wat sy in haar verbeelding van die ou “spinnekop” met die strikdas oproep.
Die einste Retha het my meewarig laat glimlag met ‘n verontwaardigde bydrae oor HvD en ‘n KP-advertensie, waaroor ek – kan nie die okkasie onthou nie – volgens haar my onbehae sonder seremonie betuig het. Ek aanvaar dat ek die ding bekrap het. Ongelukkig ‘n slegte gewoonte gewees as iets my nie geval nie! Seker ook die woord “leuens” deur dun lippe uitgepers. KP-propaganda het nie lekker in my “fluweelbaadjie” gaan sit nie, en dit bely ek graag, ook teenoor diegene wat dit as ‘n aartssonde beskou om so “subjektief” te wees.
Maar die weiering om dit te publiseer? Ai, ai.ai. Arme ou HvD was maar net die instrument wat maatskappybeleid (direksiebeleid) moes toepas. Geen advertensie van enige ander party kon daardie tyd nog aanvaar word nie totdat die direksie, op aandrang van die redakteurs, die beleid hersien het. HvD, glo dit of nie, was een van die drywers van die voorstel dat ons moet oopmaak.
Maar pleks dat ek daaroor ‘n held is, is ek oor “my” weiering ‘n skurk. Harde lewe!
Dalk sal die huidige geslag dit moeilik vind om hierdie ou man te glo. Ek “lieg” egter nie; ek “verdraai ook nie die feite” nie, soos die strydvaardige Max du Preez beweer nie. Advokaat Langdavid de Villiers moes immers so kort gelede soos 1987 uit die Naspers-direksie skededdel omdat hy Esther Lategan, ‘n onafhanklike kandidaat in Stellenbosch, ondersteun het. So ‘n naakte anti-NP-demonstrasie is nie met “voortgesette lidmaatskap van die direksie versoenbaar geag nie”. Njannies.
Engelse advertensies was ook lank taboe. Nadat die Friend ter ruste gelede is (soos Max se verbeeldingryke beskuldiging nou), was HvD instrumenteel om daardie verbod opgehef te kry. Skryf, Retha, skryf!
Ongelukkig is die verbod op advertensies van sekswerkers in koerante ook opgehef. Daarin was HvD gelukkig nie instrumenteel nie. Miskien moes daardie vurige meisies se “gunsies” teen ‘n prys, en die katalogus van die beskikbare ware wat hulle adverteer, liewer “toe” gebly het!
En hiermee sela oor hierdie onderwerp – die 80’s en ons nare redakteurs van destyds se verskriklike vergrype, bedoel ek, nie die gewillige meisies se gulhartige dienste nie.
Comentarios