top of page
  • Uitmelkbos

HOOR, DIE BOS ROEP!



‘n Konsert van naggeluide soos nog nooit by Balule; die grootste trop buffels in my heugenis op die S36 en talryke luiperds rondom die Sabierivier. Dit sal ons altyd onthou van ons wintervakansie van 2012 . Twee maande was ons adres weer Wildevy 154, Sabiepark – soos altyd ‘n eindelose plesier.



Die naggeluide by Balule aan die Olifantsrivier sou vreesaanjaend gewees het sonder die stewige heining. ‘n Spannetjie Tukkiemaats van die jare 58 tot 60 was saam in die kampie se ses rondaweltjies. Ons het ure lê en luister. By die oggend se roereier kon ons nie daaroor uitgepraat raak nie. Trouens, oor Balule kan geen mens uitgepraat raak nie. Ons klompie keer in Julie 2013 terug vir ‘n tweede porsie. Deposito vir die hele kamp is klaar betaal. Net jammer dis nie weer volmaan nie!



Op pad terug, ry ek en Tokkie ons toe vas in ‘n swart muur van buffelhorings en -rûe. Ons was ‘n halfuur vasgekeer in die Honda. Toe skrik ‘n klompie vir ‘n raserige voëltjie en gaan ‘n kanaal vlugtig oop. Die Sanparkemense meen die trop was dalk 1 200 groot. Vir my klink die skatting konserwatief.



Luiperds op die H11 Skukuza toe, die Doispanepad (S1), op die S3 langs die Sabierivier, by die piekniekplek en telkemale tussen die huise in Sabiepark self was ‘n oorheersende vakansie-ervaring. Een middag by die piekniekplek – nogal as ‘n 30ste verjaardag-“geskenk” vir my broerskind Marcus Malan – het ‘n wyfie met twee spelerige welpies rondgewals. Met ons laaste besoek aan die piekniekplek besorg die fris mannetjie ons toe ‘n toegif.



Maar as ‘n mens begin uitsonder, trap jy in ‘n gat. Wat dan van daardie reuse-sebra-optog op die S89 wat ‘n mens aan ‘n migrasie in Serengeti laat dinkhet? En die olifante? Die grootvoete het, soos altyd, langs die Sabierivier (ook langs die Timbavati) gewemel. By Balule het ‘n trop van 27 langs gekom. Oor die stringe bloukuiflkoeries het ek reeds geskryf.



Die Sunsetdam by Onder-Sabie het sy status as gunsteling-koffiedrinkplek herbevestig. Oor die koffie is 17 spesies wild en watervoëls getel. By Vurhami, naby Krokodilbrug, was ons verheug oor olifante, kameelperde, sebras blouwildebeeste, rooibokke en nimmersatte wat mekaar by die water verdring.



Een teleurstelling was dat die skildergatige Lugmagdam by Nhlanguleni ‘n vloedslagoffer was. Die dam gaan nie herbou word nie; ‘n enorme jammerte uit ‘n toeristehoek.



Met die herstel van brue en paaie word ongelukkig maar stadig gevorder. By Olifants is die H1-hoofslagaar tussen noord en suid steeds toe. Balule is steeds van Olifants afgesny. Talle gewilde afdraaipaaie is met geel plastiekbuffers afgesper. Die brug oor die Sabie naby Skukuza lyk soos ‘n haasbek-sesjarige … Afrika het eenvoudig sy eie tempo.





Naskrif: Ook in Skukuza het die kwik hierdie winter laag geduik. Rekord-lesings van 0 grade het deurwinterde bosmense na jasse laat gryp. Maar op Vrydag 10 Augustus om 16:00 neem ek ‘n foto by Sabiepark se swembad: vier jong meisies in hul bikini’s. Die volgende dag klim ons op die vliegtuig Melkbos toe. Dit sous en dis bitterlik koud hier. Ai, hoe hard roep die bos nie nou nie!



3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page