‘n Lawaaimaker is die aristokratiese kameelperd allermins – selfs hul gevegte verloop in spookagtige stilte. Al wat jy hoor, is die nekke wat klap soos jong boompies wat voor ‘n olifant swig.
Op twee staptogte net twee weke uitmekaar het ons in Sabiepark kameelperbulle gekry wat mekaar met hul nekke staan en peper. In stadige aksie.
Eers gee die een sy teenstander ‘n harde veeg. ‘n Sekonde lank gebeur niks. Dan kry nommer twee ‘n beurt om te reageer. Ewe ridderlik. Asof hulle afgespreek het om so een-vir-jou, een-vir-my te baklei. Van enige defensiewe aksie word geen teken gesien nie.
Al word die konflik in doodse stilte besleg, is kameelperde nie regtig stom nie, soos baie mense dink en die rubriekskrywer Blou Willem vandeesweek in Beeld en Die Burger skryf.
Al uiter die langnekke nie ‘n geluid terwyl hulle veg, of sommer net langs die pad rondstaan nie, kan hulle hard alarm maak as leeugevaar dreig.
Die kameelperd se modus operandi in só ‘n krisis is nogal uitdagend. Hy staan direk vir die leeu en kyk — as ‘t ware onder vier oë. Met ‘n regop nek word lug dan vinnig ingeneem. Dit bring ‘n soort blaasgeluid voort.
Verskeie blêrgeluide kan ook oor sy lippe kom. Blou Willem kan maar die ore spits.
Oor die wesens van die veld bestaan egter allerlei mites. Carike Keuzenkamp sing selfs op ‘n kinder-CD dat kraanvoëls nie kan vlieg nie!
Comments