top of page
  • Uitmelkbos

HONDE MET HARTE VIR HONDE


Die land is in 1988 aangegryp deur ‘n driejarige steekhaarbrakkie, Josef, se wanhopige pogings om die bebloede liggaampie van sy lewenslange maatjie, Lucky, in Bellville uit die pad te sleep. Die verkeer in ‘n besige straat in Brackenfell het honderde meter ver opgedam en motoriste het aangedaan die heldhaftige Josef aangemoedig terwyl hy met Lucky sypaadjie toe sukkel.

Lucky, ook ‘n steekhaarbrakkie, is in spitsverkeer doodgery en Josef was duidelik verpletter. Die hondjie kon eenvoudig nie ophou treur nie totdat sy eienaar oortuig geraak het die dood sou ook vir hom die genadigste uitweg wees.

Hondeliefhebbers landwyd wou egter niks daarvan weet nie. Ten einde laaste het Josef ‘n gelukkige nuwe tuiste gekry – en nuwe geselskap in die vorm van die nuwe baas se eie steekhaarbrakkie.

Josef se laaste liefdesdaad is later deur die Bond teen Wreedheid teenoor Diere met ‘n eerbewys bekroon – een van die eerste troeteldiere wat daardie eer te beurt geval het.

Verstommende verhale van hoe honde aan hul meesters en here verknog raak en van hondehelde se doodsveragtende optredes om geliefde base in die uiterste nood met hul eie lewens te beskerm, is wyd opgeteken. In my eie hondeboekie, ‘n Vriend vir altyd –

honderde hondestories (Human & Rousseau, 2000), is verskeie opgeneem. ‘n Jaar na sy verskyning, op 9/11/2001, het ‘n gidshond die wêreld se respek verwerf deur sy blinde eienaar uit een van die brandende toringgeboue van die Wêrelhandelsentrum tot veiligheid te bring.

Dat opperste toewyding nie beperk is tot tussen mense en honde nie, word deur die verhaal van die twee maatjies Josef en Lucky gestaaf. Selfs twee twee honde wat blykbaar wildvreemd vir mekaar was, het ‘n amptenaar van die Universiteit van Kaapstad in De Waalrylaan ook met hul honde-deernis geroer.

‘n Duitse herdershond-kruising was besig om sy naam gestand te doen deur ‘n beseerde bulterriër-kruising langs die uiters besige snelweg te begelei. As die bulterriër agter raak, het die straatwyse wolfshond telkens teruggedraai en hom met die neus op die spoor gehou, weg van die voortsnellende motors af. Die bulterriër het sy dankbaarheid betoon deur die herdershond te lek en sy stert te kwispel.

Nog ‘n klassieke bewys van sulke honde-toewyding is Ben en Bill, twee jack russells van Averley, Engeland.

Ben, die groter een, het sy oë verloor toe ‘n boosdoener hom op straat met ‘n skerp voorwerp takel. Bill tree van toe af op as Ben se gidshond. Die eienaar van ‘n skuilplek vir honde het hom daaroor soos volg uitgelaat: “Baie mense voel jammer vir Ben, maar hy is doodgelukkig solank Bill aan sy sy is. Hy ruik hom uit en volg hom oral.”

Hierdie deerniswekkende vriendskap is deur ‘n TV-span verfilm. Meer as 5 000 mense het na vore gekom met die wens om die onafskeidbare twee aan te neem.

Hond vreet hond, lui die spreekwoord. Klaarblyklik is dit egter ‘n halwe waarheid. Hond waak ook oor hond. Hond red hond. Hond treur oor hond.

Soos die storie uit die Wildtuin oor die hartseer van Alexander, die dooie olifantbul, se maat, asook die storie van die swaeltjie van Parys se smart nadat sy wyfie deur ‘n motor getref is, behoort hierdie hondestories en hope ander met ‘n soortgelyke strekking skeptici twee keer te laat dink of diere wel emosie kan toon of nie.

Noem my maar ‘n romantikus, of iets erger, in my lewe het ek egter genoeg gesien, gelees en gehoor om te glo dat die mens gerus soms ietwat nederiger kan wees oor sy vermeende superioriteit in elke opsig oor die diere van die veld.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page