top of page
  • Uitmelkbos

Hond se gedagtes

Dit is sekerlik die reinste toeval dat twee personeellede van een universiteitsdepartment op een dag oor dieselfde boek in twee verskillende koerante skryf. Helize van Vuuren, hoogleraar verbonde aan die Nelson Mandela-Metropoolse Universiteit (NMMU) in Port Elizabeth, en Marius Crous, dosent verbonde aan dieselfde departement, skryf onderskeidelik in Die Burger en Beeld oor Anna Kemp se kortverhaalbundel Op reis met ‘n hond.

Van Vuuren en Crous benader die resensie op verskillende maniere. Hul slotsomme is nietemin ongeveer dieselfde: Goeie bundel, baie verdienstelike debuut, enkele leemtes en hinderlikhede.

Crous se bespreking is saaklik en afgestem op die teks en sy reaksie daarop. Van Vuuren, wie se naam mens helaas te min op Afrikaanse boekeblaaie sien, lewer oudergewoonte iets baie ongewoons. Sy skryf nie alleen oor die bundel nie, maar ook oor die konteks waarin dit verskyn, en dui aan dat daar ‘n nuttige handleiding vir lesers van die bundel is in die vorm van die outeur se magisterverhandeling.

Dié verhandeling is vryelik op die Internet beskikbaar, en daarin verduidelik die outeur wat sy met die verskillende verhale probeer vermag het. Crous gee geen aanduiding op hy daarvan bewus was nie, en sy reaksie is ook van so ‘n aard dat dit nie saak maak nie.

Van Vuuren plaas weer heelwat klem op wat sy noem die “Duitse DNS” van Kemp se verhale wanneer sy oor die verhale self skryf. Sy geniet die voordeel dat sy reageer op Kemp se verhale én tesis, wat haar resensie des te interessanter maak.

Dit is ook duidelik dat Van Vuuren baie moeilik te bevredig is. Eers sê sy “In die geheel staan Kemp se bundel … stewig as ‘n tegnies sterk debuut, onderkoeld gehanteer in die verteltrant, en pikante onderbeklemtonings …” Later voel sy dat “weliswaar gebeur hier nie juis veel nie, is die reikwydte van die verhaalruimtes nie groot nie en is hier weinig spanning in die meeste verhale om die kort narratiewe te dra.”

Maar dan, so half as ‘n nagedagte, sluit sy af met: “Wat sy wel baie knap uit die Duitse DNS oordra in Afrikaans, is om die hele melancholiese Afrikaanse synswêreld van die uitgeworpe burger in ’n vreemd geworde wêreld te vergestalt, soos wat dit binne twee dekades en een geslag verander het.”

Is sy besig om haarself te weerspreek? Moontlik tog. Iemand wat daarin slaag om “die hele melancholiese Afrikaanse synswêreld van die uitgeworpe burger in ’n vreemd geworde wêreld te vergestalt, soos wat dit binne twee dekades en een geslag verander het” is nie besig om gekniehalter te word deur ‘n eng rykwydte van verhaalruimtes nie, en nog minder kan dit waar wees dat daar nie veel gebeur nie.

Nietemin, toe ek hierdie twee resensies lees, besef ek dat waar Anna Kemp hulle op prys sal stel, Izak de Vries waarskynlik nou begin wens hy het nie ingestem om hierdie boek vir Rapport te bespreek nie.

***

Fransjohan Pretorius het in Beeld geskryf oor Albert Blake se Boereverraaier. Ek huiwer om die woord te gebruik, maar vir hierdie resensie is daar geen ander nie: briljant.

Ek het onlangs genoem hoe ‘n knap stuk skryfwerk Sandra Troskie se bespreking van Franz Kamp se 60 dae in die Suid-Soedan was. Pretorius s’n van Boereverraaier hoort in dieselfde kategorie.

Hy geniet uiteraard die voordeel dat hy die persoon is wat deur sy navorsing en sy boek Kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog die weg gebaan het vir ‘n meer nugtere kyk op die doen en late van ons voorsate. Daarom kan hy met soveel gesag praat oor die huidige klimaat, en die uiteenlopende hoeke waaruit onlangse publikasies die Boerekrygers benader het.

En om dieselfde rede is hy ideaal geplaas om die vinger te kan lê op die waarde van Albert Blake se boek.

Wat die resensie vir my so buitengewoon knap maak, lê in Pretorius se hoedanighede as skrywer, en in sy vermoë om sy saak te argumenteer. Let net op die argumentspunte in die aanloop tot hierdie paragraaf, asook oor sy reaksie op só ‘n skarnier-paragraaf daarna: “Ek meen, 22 000 bittereinders teenoor 20 000 ‘hensoppers’, van wie 5 564 gewapende ‘joiners’ in Britse militêre diens en meer wat die vyandelike leër op een of ander manier bygestaan het?”

Pretorius het ’n slag met woorde. Kyk net hier:

Onbevange en onderhoudend vertel Blake van die verraad in eie geledere – hulp aan die Britse magte en dikwels hardvogtige optrede teen Boerevroue en -kinders – het vir onmeetlike smart gesorg.

En so stap talle Boereverraaiers in ’n roerende skouspel by ons verby op pad graf toe – Lambert Colyn, J.J. Morgendaal, Meyer de Kock, die Brits-broers, die Allison-broers, elkeen met ’n verhaal wat die hart aangryp.

Hy het amper nie nodig om nog tot ‘n slotsom te kom nie. Sulke beskrywings vertel meer oor die resensent se reaksie op ‘n boek as wat ‘n saaklike formulerng kan, al is dit dan ook “’n Eerlike boek, bitter ontstellend, maar indrukwekkend.”

***

Hierdie blog neem nou vakansie, en sal middel Januarie 2011 weer hervat.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page