As n ewemens van aansien en statuur ‘n nare ding oorkom, is daar maar altyd n lot Filistyne wat meewarig sal opmerk: “Ja, hoe sê hulle nou weer, hoogmoed kom voor die val!”
Die idioom wat diesulkes oprakel, het, soos ons almal weet, natuurlik ‘n simboliese betekenis. Die “val” dui nie noodwendig op n fisieke kennismaking met moederaarde nie, maar kan enige vorm van vernedering behels.
Hoogmoed kan egter ook letterlik hard val. Vra maar vir Oom Gielie, die gryse koster van n gemeentetjie doer in die Ou-Wes-Transvaal, nie ver van die Botswanagrens nie.
Oom Gielie was duidelik baie bewus van sy posisie, as hy elke Sondagoggend net voor die diens begin met groot gebaar uit die konsistorie die kerk ingestap kom. Voor die kansel neem hy dan stelling in, en laat dan ‘n kritiese oog oor die versamelde gemeente gaan.
Almal was al hartlik geïrriteerd deur hierdie gesagsvertoon. Toe leer hy nederigheid — daardie oggend voor die erediens toe hy op sy eie te blink gepolitoerde vloer gly. Sy bene swik en sy arms pomp wild, maar daar is niks wat sy val kan stuit nie, totdat hy sonder enige waardigheid oor onder die eerste bank tussen die sedige Tant Hester se bene inskuif.
Die tante, ‘n weduwee wat nooit ‘n hertroue oorweeg het nadat haar man haar op vroeë ouderdom treurig ontval het nie, was in stil gebed, onbedag op die gevaar dat ‘n skaatsende koster of enige ander geleide of ongeleide projektiel skielik tussen haar bene kon beland.
“Satan!” gil sy dat die kerk dreun toe die ongewone teenwoordigheid van ‘n manlike lyf op daardie onbehoorlike plek tot haar deurdring. Sy spring op haar voete en dam die prostate lyf met haar gesangeboek by. “Wat soek jy hier? Wat soek jy hier?”
Die koster is omtrent hande-viervoet by die konsistoriedeur in, terwyl ‘n proesende Tant Hester steeds protesteer oor die skandelike ding wat haar oorgekom het. Aan die koster se verskynings voor die kansel het daarmee ‘n summiere einde gekom.
Dis, helaas, nie net hoogmoed wat voor die val kom nie, maar ‘n hele reeks ander menslike swakheidjies ook, soos onbehoorlike nuuskierigheid. Hiervoor kan ek ‘n afgetrede Melkbosser tot getuie roep – ‘n eerbiedwaardige pilaar van die gemeenskap as daar ooit ene was.
Hy gaan stap een oggend Koeberg se kant toe met sy kierietjie toe hy vier gedaantes uit die mis tevoorskyn sien kom. Hy sien dadelik twee is jong mans en twee vroue. Dit lyk op ‘n afstand nie of die vroue baie klere aan het nie.
Die pensioentrekker versnel sy pas. Toe hy nader aan sy teiken kom, word sy vermoede bevestig. Albei se bolywe is kaal. Hy sien hoe twee mans en een vrou die water inplons. Die ander vrou bly staan geanker op die strand. Die ander wink: “Kom, kom”, maar sy laat haar nie ompraat nie.
Hy besluit om tog maar nog ‘n entjie nader te stap om beter te kan sien. Om sy hoek reg te kry, sit hy sy kierie onder die arm en stap ‘n tree of tien in die vlak watertjies in. So-ja, nou sien hy sommer altwee meisies tegelyk. So jonk en ferm!
Op hierdie sublieme oomblik stoot ‘n brander ‘n paar stukke seebamboes uit. Maar met dié dat onse held se oë nie op grondvlak gevestig is nie, sien hy nie die gevaar raak nie. Die eerste wat hy agterkom, is toe nat slierte om sy enkels krul en knoop. Ene ruk hom skoon onderstebo, plat op sy sitvlak in die water.
Hy hoor ‘n galmende lagbui uit die vier jong kele, en besef hoe deursigtig sy strategie vir hulle moet gewees het. Daarop tel hy sy kierietjie op en stap met sy nat klere doelgerig aan huis toe, waar sy vrou op die grasperk doenig is.
“Wat makeer jou? Het jy probeer swem?” wil sy weet. Hy uiter net ‘n snork. “Jy sal my tog nie glo as ek vir jou vertel nie.”
Later bieg hy. Maar dis elke keer vir hom pynlik as sy met behae haar weergawe van sy verleentheid vertel: “Toe die een meisie wink ‘kom, kom’ toe kom hy!”
Comments