‘n Hof met melktandjies. Ja, ongelukkig het die Hof vir Kleineise nie staaltande nie. Ek het pas ‘n ontnugterende ervaring met dié regsprekende liggaam van die gewone man agter die rug. Sal regtig nie weer die moeite doen nie.
Vir eers het die hof (op George) toegelaat dat die ander party as ‘t ware, soos die Engelse dit mooi stel, met moord wegkom. Ten tweede was sy kommunikasie met die klaers bra lamlendig.
Die eis gaan oor verbloemde gebreke aan ‘n eiendom. Ná besitname blyk dit ‘n stuk dak het ‘n chroniese lek. Die water skop die woonvertrek se muuproppe uit. Ten tweede is die elektriese veiligheidshek weens lang onbruik – terwyl die plek leeg gestaan het – reddeloos buite aksie. (‘n Sogenaamde elektrisiteits-sertifikaat is uitgereik maar was ‘n ronde nul werd.)
‘n Paar duisend rand moes opgedok word om die “foutjies” te herstel. Die verkoper trek haar skouers op en maak lang stories al is sy skuldig soos more heeldag.
Ons besluit om ons skade by die Hof vir Kleineise te probeer verhaal. Prosedure verg dat ons vir haar ‘n aanmaning stuur. Dit doen ons per geregistreerde pos. Die koevert kom ongeopen terug: “Refused”. Sy’t seker snuf in die neus gekry.
‘n Lang geredekawel ontstaan nou met die hof oor hoe om haar gedagvaar te kry. Jammer, ons moet daarvoor van Melkbos George toe ry, word ons meegedeel. Uiteindelik sink die boodskap in dat dit bra onrealisties is. ‘n Dagvaarding word toe uitgereik op grond van dokumente wat heen-en-weer gekoerier word. Dank jou die duiwel.
‘n Hofdatum word bepaal – sewe weke vooruit. Twee dae voordat ons sou George toe ry vir die geding, doen ons darem net by die hof navraag of die wiele nog rol. Nee, verneem ons, die verweerder sit in Kanada. Sy het uitstel gevra tot Desember.
In daardie stadium was huisvesting al in George bespreek, ons wintervakansie verkort en ‘n operasiedatum só bepaal dat dit, en die lang “rehabilitasiefase” vir die betrokke chirurgie, die hofverrigtinge kan akkommodeer. Maar ons word niks laat weet nie van die verweerder se jakkalsdraaie nie. Dis ons indaba.
Ons maak kapsie dat ons boonop verniet George toe sou gery het as ons nie die insiatief sou geneem het om navraag te doen nie. Wat van die reis- en verblyfkoste? Die skouerophalende antwoord is: “Dit is irrelevant.”
Intussen verskyn in ‘n koerant ‘n artikel met allerlei onthutsende inligting. Jy moet “deskundige” getuies in persoon saambring hof toe – beëdigde verklarings is onvoldoende, word gewaarsku. Ten tweede: in die geval van ‘n onwillige verweerder moet jy maar self sien en kom klaar om die geld uit hom/haar te wurg. As ‘n hofbevel uitgereik is, was die hof sy hande.
Ek vra met trane in my ysblou oge: “Hoe kry jy ‘n ‘deskundige getuie’ by die hof as hy/sy nie gedagvaar word nie? Ek vra ook: het die hof ‘n benul hoe vinnig regskoste kan opstapel as jy uit jou sak moet begin regstappe doen ten einde ‘n hofbevel af te dwing?
Terwyl die uwe wag dat die wondersoete slaap (D.F. Malherbe) saggies neerdaal, besef ek skielik in die nagtelike ure: ek ry hier ‘n dooie perd. Dit gaan my geld kos – dalk baie geld – sonder dat ek uiteindelik iets vir my moeite sal kan wys. Boonop gaan ek bars van frustrasie, terwyl die steeks verweerder in Kanada (of waar ook al) al die pad bank toe lag.
Net een rasionele ding bly oor: vee die hele besigheid onder die mat. Vat jou skade soos ‘n man. Trek jou eis formeel terug. Aanvaar dit as ‘n lewensles. Dit is presies wat ek toe doen.
Het die Hof vir Kleineise regtig bestaansreg as hy so funksioneer (of eerder: nie funksioneer nie)?
Comments