top of page

HOERE VIR DIE KONING !


Met die Wit Trein op pad na die noorde, stop Koning George VI – die ou wat so pynlik gehakkel het (sien die fliek The King’s Speech) – in 1947 op Beaufort-Wes.

Die Cape Times wil toe ‘n bietjie plaaslike kleur in sy verslag bring, maar ‘n ontbrekende kappie op ‘n “e” laat die stomme Engelse verslaggewer in ‘n gat trap. Hy berig, en sy koerant sit dit in die opskrif op die voorblad, dat die skare sy majesteit begroet het met krete van: “Hoere, hoere, hoere vir die koning!”

Ria Briers van die Goodwoodmuseum het my genooi om Dinsdag by ‘n werkwinkel oor humor van die ligter koerant van die joernalistiek te kom vertel, en die hoerestorie was een van dié wat ek opgedis het. Van my beste stories oor koerant-mistykies was al in hierdie blog ná die Woordfees op Stellenbosch. Hier’s, as toegiffie, darem nog twee of drie:

Gladys Steyn, laaste Sap-kandidaat in die Vrystaat, val uit in ‘n verkiesing. By Die Volksblad sit ‘n subredakteur met diaboliese dubbelsinnigheid die volgende opskrif op die berig: Gladys sit pot mis; hele Vrystaat Nat.

‘n Korrespondent van Die Volksblad berig uit die platteland¨ “Die bruid het pragtig in haar vertrek-uitrusting gelyk: ‘n ligblou gabardienpakkie met bypassende jassie. Albei is plaaslik goed bekend.”

‘n Ander ene, ook van die platteland, skryf: “Jannie Marais en Sannie Smit is Saterdag getroud. Dit beëindig ‘n lang vriendskap wat op skool begin het.”

Die opskrif was darem nie “Kwaaivriende” nie!

By die werkwinkel in Goodwood het prof. Frank Hendriks van UWK gerpraat oor streeksvariëteite van Afrikaans. By hom leer ek toe die pragtige Boesmanlandse woord vir geslagsryp: “kweperbekwaam”.

Prof, Sandra Swart van Maties het ‘n akademiese dissertasie kom lewer oor “The laughter of the Afrikaner, towards a social history of humour”. Ek het nie geweet ‘n mens kan oor humor in die Anglo-Boereoorlog só filosofies-diepsinnig (maar boeiend, hoor!) praat nie. In my tyd was professore glad nie so jonk en aantreklik nie. Ook maar goed so!

Die uitgewer Danie Botha, onder andere redakteur van my tweede boekie, Flaters en kraters, het heerlik gepraat oor “Die lewe en humor van Fanus Rautenbach”. Hy weet dit nog nie, maar ek het by Melkbos kom aanbeveel dat ons hom hier MOET kry. Wie soek nog ‘n goeie spreker oor ‘n gewilde onderwerp?

In Die Burger was ‘n berig oor die werkwinkel, verrassend en nie op meriete nie versier (?) met ‘n foto van die uwe in aksie (hierbo).

Die plaaslike grapjas, Danie Krynauw, stuur na aanleiding daarvan vir my die volgende boodskap: “Hennie, ek gee toe vanoggend vinnig die koerant vir Koos (gemeenskaplike vriend) en klim in die motor. Ek draai die ruit af en sê dat hy moet kyk daar is n foto in van Hennie van Deventer.

Koos: ‘In verband waarmee?’

Ek : ‘Hy is glo gevang vir dronkbestuur.’

En toe trap ek die petrol en ry weg… Groete, Danie.”

Die bokker, en dis nie eens so vreeslik vergesog nie! Gelukkig verskyn die woord “humor” in die opskrif langs die foto!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page