top of page
  • Uitmelkbos

HOE-E, HOE-E IN DIE NAG .

Spore in die sand, die betekenis. In die matriek-eindeksamen in 1957 was dit die onderwerp wat ek vir my Afrikaanse opstel gekies het. ‘n Mens kan jou verbeelding nogal vrye teuels gee … Maar ek het net ‘n entjie geskryf. Toe trek ek ‘n streep deur die ding en begin voor. Hierdie keer minder misterieus.

Hoekom ek skielik terug is by die matriekeksamen en die opstel-onderwerp? Omdat ek die ingewing gekry het om ‘n blog te skryf met die opskrif: Hoe-e, hoe-e in die nag, die betekenis. Jy kan met daardie onderwerp ook jou verbeelding nogal vrye teuels gee.

Die verskil: hierdie blog is geen verbeeldingsvlug nie. Dis die waarheid. Nou die nag word ek regtig wakker van ‘n spookagtige hoe-e, hoe-e. Die wekker se verligte gesig beduie dis 03:00. Sou dit Koeberg wees, is my eerste gedagte? Het die ondenkbare nagmerrie waar geword: Tsjernobil, Three Mile Island, Foekoesjima, Koeberg ?

Ná ‘n ruk dring dit deur dat Melkbos in ‘n buitengewone digte mis-kokon gehul is. Van my kant van die matras sien ek nie ‘n enkele liggie in Kusweg nie. Gewoonlik lê die straaligte daar in ‘n helder streep. Die donker nagprofiel van Tafelberg is onsigbaar. Die see druis sy gewone druis. Jy sien egter nie water of branders nie.

Mishoring! Natuurlik!

Ek onthou ‘n nag in die ou Cape Sun Hotel in Strandstraat, Kaapstad. Dieselfde hoe-e, hoe-e. Naderhand bel ek die toonbank. “Wat hoor ek, brandalarm?” “Nee.” Ek dink aan ‘n ander nag in Cambridge, Massachusetts, toe ek en die ander gaste deur ‘n alarm gewek is. Ons moes uit ons kooie ylings straat toe. Brandwere het loeiend opgedaag. Gelukkig was dit nie regtig ‘n brand nie.

In elk geval, later is ‘n verspieder by my in die kamer in die Cape Sun. Hy hoor niks. Hoe-e, hoe-e, bly ek egter hoor, duidelik en eweredig. “Listen,” sê ek, “there it is, there it is”. Hy luister met gespitste ore. “Oh, it’s the foghorn, sir.” Klem op die sir.

Watter mishoring het ek nou die nag gehoor? Sal nie weet nie. Is daar ene op Robbeneiland? Nog nooit voorheen daarvan kennis geneem nie. Kom dié geluid dalk die hele pad van die hawe se kant af oor die see aangesweef? Klink onwaarskynlik. Nietemin, mishoring was dit – daaroor bestaan min twyfel.

Koeberg staan immers nog vas op sy fondamente.

Oor ‘n week of drie is ons in Sabiepark. As ons daar snags hoe-e, hoe-e hoor, hoef ons nie kop te krap nie. Dis die uil, man! Al waaroor ons onseker sal wees, is of hy terug is op die stoep aldan nie. Die volgende oggend sal yslike wit miskolle op die stoepteëls verklap of hy daar geslaap het of in ‘n boom voor die huis.

As dit op die stoep was, kan jy maar weet: rugbreekwerk lê voor om daardie mis afgeskrop te kry. Dit klou, boeta. Tokkie sê hoeka verffabrieke behoort daardie formule in die hande te kry. Dan sal hul waarborge iets beteken!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page