top of page
  • Uitmelkbos

Hierdie pen skroef ek toe






Ek verbeel my nie ek is in die kranige Stockenström se liga nie. Sedert ek 1997 by Naspers weg is, het my koerantgiere egter ook heel dikwels in meningskolomme tot uiting gekom. Koerantkwessies, Belhar, geskiedskrywing, Luke Watson, kollegas wat oorlede is – dit is o.m. onderwerpe waaroor ek ‘n stuiwertjie in die armbeurs wou werp.


Vandag sê ek nie soos Stockenstrom: “Bring my bril; ek moet skryf” nie. Ek sê: “Bring my pen dat ek dit toeskroef; ek sal nie sommer weer (koerantbriewe) skryf nie.” Hierdie joernaal is inderdaad ‘n soort persoonlike waterskeiding. Ek wil nie sê nooit weer enige persdebat vir my nie (‘n mens weet nooit nie!), maar ek sê tog sonder huiwering: nie sommer weer nie.


Ek verwag eerlik nie dat iemand oor my voorneme sal trane stort of dat my bydraes gemis sal word nie. Maar oor een aspek wil ek my tog aanmatig: ek wil graag dink dat my motivering ter sake kan wees.


My kernrede is dat hedendaagse debatte te veel ontaard in ‘n “kontaksport” (“bloedsport”?). Die dryfveer is: as jy nie met iemand saamstem nie, trap hom! Briewe dwaal soms baie ver van die kernkwessie en raak uitermate neerhalend en persoonlik. Soms verdring die skrywer se ego (of ander agendas) die saak heeltemal en neem die “eie ek” onbeskroomd oor.


In my redakteurstermyn (1980 – 1992) was dit doodgewoon beleid dat die brieweredakteur beskerming teen persoonlike tirades verleen. ’n “Briewebussie” het nog bestaan waarin kort redes, in telegramstyl, verstrek is vir briewe wat snippermanjie toe is. “Te persoonlik” en “nie onder n skuilnaam nie”, was konsekwent van die primêre beweegredes. Tye het verander, goed en wel, maar daardie was ‘n stukkie bedagsaamheid wat ek mis.

Max du Preez se frontaanval in By van 15 November speel ‘n rol in my besluit. Sy vendetta is nie vir my lekker nie. Ander briewe uit ander oorde het egter ook ‘n rol gespeel, veral een skuilnaambrief in Die Burger (15/10), kamma uit “Koeberg”, met ‘n onaangename sinspeling oor teenstanders van Belhar se Christenskap. “Boetman Genade” se kakebeen is oop. Ek slaan egter doelbewus nie terug nie.

Vir Du Preez sal ek die pluimpie gee dat hy ‘n voorslag was in die eerste verslagspan van Beeld wat ek in die jare 70 as nuusredakteur aangevoer het. Op grond van botsende insigte en waardes het ongelukkig verwydering gekom. Dit behaag hom om, soos in By van 15 November, uit sy pad te gaan om my integriteit en geloofwaardigheid af te kraak.


My eerste impuls was om ewe strydend te antwoord. Toe kry die wysheid van die grysheid gelukkig die oorhand. Trouens, na ‘n rukkie se dink het ek besef ek moet eintlik vir Max du Preez dankie sê. Dit is daardie stuk van hom wat my oë finaal geopen het vir die nutteloosheid van blinde konfrontasie en vrugtelose debat, veral oor die komplekse koerantgeskiedenis van die onstuimige 80’s waarvan baie beterweters hul oppervlakkige begrip telkens openbaar. Dit is nie goed vir jou gemoed nie.


Ek is amper 68 jaar oud, al 11 jaar lank afgetree op Melkbosstrand en wil verder my geseënde “herfsseisoen” rustig geniet na ‘n loopbaan wat heerlike werksbevrediging verskaf het, waarvoor ek nie in die minste skaam is nie en wat niemand, dankie tog, met ‘n enkele rubriek, artikel of brief ongedaan kan maak nie.


Betrokke raak by allerlei pennestryde is na dese nie meer vir my nie. My pen is toe.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page