top of page
  • Uitmelkbos

“HIER WAS EK!”


Opgewonde toeriste wag hul beurt af om by die bord afgeneem te word met die towerwoorde: “KAAP DIE GOEIE HOOP – die mees suidwestelike (sic) punt van die vasteland van Afrika”.

Veral die Oosterse toergroepe is groot en en die kameras in hul geledere talryk. Ons moet maar geduldig wag, baie paraat ook, want hier is dit soos vanoggend soos by die waters van Bethesda: as dit roer moet jy ook roer!

Uiteindelik het ons ons foto’s – vide hierbo. Dit is, moet ek bely, ons eerste besoek aan dié baken. Vorige kere was dit by Kaappunt vinnig op tot bo, woerts en weg. Hierdie keer bestee ons tyd en geniet elke oomblik. Ook die reuse-branders wat skuimend oor Kaap die goeie hoop se rotse breek en in watervalletjies terugtuimel in die Atlantiese Oseaan in. En die fotonemery.

Sulke bakens is natuurlik vir elke toeris die bewys: ek was daar! Foto’s lieg mos nie. So word die baken ‘n trekpleisters uit eie reg. Skielik besef ek dat my eie “bakenfoto’s” maar bra minnerig is. Was ek in my lewe wel by bloedmin bakens of het ek net nie daarop gekonsentreer om sulke foto’s te versamel nie? Goeie vraag.

Ek praat nou nie ‘n foto by ‘n padbord buite Deventer of ‘n foto in Harvard se hek of ‘n foto op die veerboot na Staten Island met Manhattan op die agtergrond of ‘n foto op die Rooi Plein in Moskou nie, maar foto’s van die ware Jakob: by borde wat aankondig dis die hoogste, die laagste, die langste, die verste of wat ook al.

Kan my herinner aan ‘n foto op die suidelikste punt van die Floridase eilandjie Key West, wat terselfdertyd die suidelikste punt van die VSA is. Daar is ook ‘n bordjie wat beduie jy kan nie nader aan Havana, Kuba, kom in die ganse VSA nie. Dan het ek foto’s by borde wat spog: “Most magnificent ….”, “Steepest ….” En wat nog. Maar dis pure reklametaal – iets waarin die Amerikaners uitblink. Hoe bepaal jy in elk geval watter sewe myl of ses of vyf al die ander soortgelyke afstande ter wêreld uitstof?

Is in Europa bakens waar ‘n mens eenvoudig net MOET afgeneem word? Verbeel my toe ons in die Alpe deur die Grossglocknerpas in Oostenryk is, het ek bewus geraak van sy vele onderskeidings: die hoogste (?), die steilste (?), die bekendste (?). Maar waar’s my foto’s van die borde?

In die Verre-Ooste? Ons was in Kobe in Japan vir ‘n koerantekonferensie – ‘n wonderwerk van herstel na die verpletterende aardbewing – maar ek weet werklik nie of ons ‘n “bakenfoto” het nie. In die Nabye- Ooste in Jerusalem is die Via Dolorosa – net een Via Dolorosa op die aardbol. Die Piramides – is een die oudste, grootste, hoogste, ens. ?

In Suid-Afrika: wat het ons hier wat so gedenk word? Kimberley se Groot Gat? Tafelberg – ‘n “moderne Wonder”maar is hy die platste of iets? Die Vredefort-koepel? Koeberg!

Hoe ook al. Wat ek eintlik wou kwytraak, is dat “bakenfoto’s” klaarblyklik groot impak het. Dus as jy enigsins met ‘n “baken” kan spog – hetsy land, provinsie, munispaliteit, stad of wat, kap jou bordjie strategies in. Lig die toeriste in op watter stukke ekslusiewe grond hulle staan. Die mense sal soontoe bly stroom. Die kameras sal nie ophou klik of flits nie. Veral die Oosterse toeriste s’n.

“Ek was hier”…. en hier’s die bewys.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page