top of page
  • Uitmelkbos

HIER’S DIE FOTO’S NOU!

Ek herhaal hieronder my blog van 25 Junie 2013 van ‘n intimiderende omsingeling deur olifante op die Skukuza-Onder-Sabiepad. Illustrasies het ongelukkig ontbreek.

Vandag plaas Sipke Meyer op die FB-blad Kruger National Park – Best Place on Earth foto’s van ‘n identiese olifant-ervaring. Ek sou kon jok en beweer dis my foto’s van my en Tokkie se Groot Skrik. Ek sou my selfs kon wysmaak daardie leuentjie is die waarheid, want nader aan die Ware Jakob kan dit nie.

Maar ‘n mens jok nie oor sulke belangrike dinge soos ‘n goeie foto se herkoms nie. Ek erken dus graag die bron. met die nodige dank en ‘n saluut aan Sipke Meyer. Ek was destyds te bang om te roer.




06.25.13

OMSINGEL DEUR OLIFANTE

Posted in Uncategorized at 12:32 pm by Administrator

Middag uit Sabiepark

RSG se Spektrum het ons pas herinner dat 24 Junie die herdenking is van die Wêreldbekerglorie van 1995. Die volgende stonde kry 24 Junie vir die Van Deventers ‘n geheel ander betekenis: Die Dag van die Olifante.

Ons kom in ons Honda’tjie (so ‘n regop 1998-CR-V) van Balule af via Onder-Sabie op die H4-1 Skukuza toe – ‘n doelbewuste draai. Ons het lanklaas die gewilde rivierpad verby die welige oewerbos langs die Sabierivierwas gery het. Kort-kort kry ons olifante. By die skerperige boog tussen Nkuhlu en die hoogwaterbrug moet ek juis weer weens olifant-teenwoordigheid aan weerskante stadiger ry.

Eensklaps is ‘n bewegende swart muur feitlik op ons. ‘n Teeltrop van dalk veertig (wie tel as jou hart in jou keel klop?) kom onheilspellend in die teerpad op die weerlose Honda afgemarsjeer. Alle groottes en ouderdomme. Die voorhoede is minder as 20 meter – dalk nader – van ons af. Jy sien net skurwe lywe, tande en pote wat lyk of dit met elke afgemete tree al hoe groter en swaarder word.

So ‘n intimiderende olifant-optog het ek in my lewensdag nie aanskou nie. Wat nog van op daardie uiters bedrywige stuk van die Wildtuin se “hoofweg” waar die motors vakansetye soms buffer teen buffer ry!

Ek trap haastig rem en swaai die neus effens veld se kant toe; vat-vat na die Canon langs my. “Los die kamera,” fluister Tokkie egter dringend. “Jou lewe is meer werd as ‘n foto”. My vrou het ‘n punt beet. Die situasie is uiters delikaat. Minstens ‘n halfdosyn babas van plus-minus-speenoud is in die groep. Die geringste prikkel – soos ‘n flits of die klik van die sluiter – kan humeure laat opvlam, besef jy.

Magteloos sit ons, roerloos gespanne soos snare, terwyl die olifante te vinnig nader kom – met wiegende lywe, asook koppe en slurpe wat heen en weer slinger. Die leier en haar geleide beweeg gelukkig ietwat links om ‘n botsing te vermy. Die ander volg gedienstig in haar spore. Vatafstand van die gryse bestuurder agter die stuurwiel verby.

In die agterhoede is ‘n kalfie wat in die skerp westeson ekstra donserig lyk, haar ma en ‘n spelerige jong bul met nog kort, reguit tande. Baba steek skielik vas en soek-soek met haar slurpie vir ‘n paar slukkies melk. Dit bring die mamma tot stilstand. Daarna maak baba, soos Tokkie dit stel, doek net voor die snoet van die kar.

Die jong bul vertoef ook en lyk min lus om hom van koers te laat dwing. Mik eers my kant toe met die tandjies skuins bokant my kop. Beweeg toe effens links tot voor die motor en betrag die spulletjie iesegrimmig deur sy skrefiesogies. Dit lyk of die jongeling op twee gedagtes hink. Op daardie oomblik stap ma en baba onskadelik verby. Bulletjie gee ons ‘n laaste kyk en volg. Die laaste swart lywe wat ek sien, genadiglik, is in my tru- en syspieëltjie.

Die Honda skiet uit sy spore, verby die motors wat van die Skukuzakant opgedam het. Van die insittendes lag breed. Party wys duim in die lug. Van hulle het dalk foto’s geneem, hoop ek. As een hier lees, en ‘n foto of foto’s het, kan ons besigheid praat. Hierdie verligte man sal gewillig sy pensioengeldjies skud vir getuienis van die naelskraapse ontsnapping op 24 Junie 2013. Sal dit graag met gepaste kommentare rondwys.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page