top of page

HET JOU, DONDERWETTER!


Van Tonder, jou donder!

Getroue lesers van HvD se blog (weet nie hoeveel van 2007 af oor is nie) sal weet dat ek al sedert Augustus van daardie jaar, amper vier jaar, die vent soek.

Lesers van “Praat-praat in Tamatiestraat” (weet nie hoeveel daar is nie, want ek het nog nie syfers by die uitgewer gekry nie) sal eweneens van die feit bewus wees, want my Van Tonder-blog het ‘n hoofstuk in dié boekie geword.

Maandag, Menseregtedag was dit ‘n geval van “Het jou!” ‘n Hewige heuglikheid was dit.

Laat my eers net die geheue verfris oor wie daardie vuige karakter is en waarom hy so lank gesoek is.

Wie hy is: ‘n fiktiewe karakter in ‘n limeriek wat deur oud-joernalis en oud-regsman Toon van den Heever uit Engels in Afrikaans vertaal is.

Die oorspronklike Engelse weergawe lui soos volg:

There was an old lady from Pod

Who thought all children were made by God.

But it was’nt the Almighty who lifted her nightie,

It was Roger the lodger the sod.

Waarom hy so dringend gesoek is? Omdat hy op ons wintervakansie in 2007 in Sabiepark na ‘n paar glasies wyn in die geselskap van Gustav (oud-appèlregter) en Frances Hoexter van Bloemfontein ter sprake gekom het. Almal weet van die Afrikaanse weergawe, maar nie een kan die presiese woorde onthou nie. Ek is toe grootmond. “Gee my kans – ek sal dit kry.”

Maar by die huis gekom, blaai ek verniet deur “Scoops en Skandes” en “Flaters en Kraters”, my eerste twee boekies met koerantstories, waar ek vermoed om dit te vind. Tuis op Melkbos snuffel ek deur my leggers met stories. Ek moet ‘n handgeskrewe weergawe van die limeriek besit wat ek by Willem Wepener afgesmeek het nadat hy by ‘n direksievergadering daarmee vorendag gekom het. Daardie waardevolle dokument is egter spoorloos.

Ek vra Jaap Steyn. Hy beveel Daniël Hugo aan. Daniel sê hy het dit een keer by Stephan Bouwer gehoor. Hoop nie dis saam met Stephan graf toe nie. Gewese buurvrou Una Beukman beveel Philip de Vos aan. Nee, hy weet ook nie.

Ek stuur sms’e aan enkele vriende wat ek as waarskynlike bronne van kennis oor sulke sake identifiseer. Maar niks spring uit nie.

Toe gaan sit ek maar voor my rekenaar, kry my geheue in rat en improviseer so ‘n bietjie. Ek kom toe met die volgende vorendag (ekskuus, regter Toon, maar dis die beste wat ek kon uitrig):

‘n Onskuldige plaasnooi, Nonnatjie Nel,

Glo babas kom net op Hoër bevel.

Maar dit was nie die Almag

Wat haar laat verwag,

Dit was Van Tonder die donder die hel!

Maandag pak en ek Tokkie my ou oorvol leggers met die doel om oortollige papier weg te gooi of te versnipper (het vir my 70 ste ‘n snippermasjien present gekry).

In die voorlaaste legger kry ek sowaar die vermiste Wepener-dokument (in die illustrasie). Ek vat dit volgende vakansie saam Sabiepark toe om vir die Hoexters te gaan wys ek weet waarvan ek praat. Intussen kan ek gesaghebbend meedeel regter Toon se weergawe lui soos volg:

Daar was ‘n mooi jong nooi, mej. Nel,

Wat dag babas kom op Hoër Bevel.

Maar dit was nie die Almag

Wat haar laat verwag,

Maar Van Tonder die donder die hel!”

Dat sy ‘n onskuldige plaasnooi was met die naam Nonnatjie was dus pure HvD-verbeelding!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page