top of page
  • Uitmelkbos

‘HEMEL’, HIER KOM ONS!



Vrydagmiddag aanstaande val die Van Deventers Buffelsbaai binne – die skilderagtigste, heerlikste strandoord wat ek ken, die geliefde plekkie naby Knysna waar ons van 1971 af tot in die 90’s seker 25 keer vakansie gehou het. Elk keer is die gees en liggaam verkwik.

Marisa was nog nie gebore nie toe ons die eerste jare Buffelsbaai toe is. Johan was in doeke. Dit was voor enige vorm van elektrisiteit op daardie idilliese kusdorpie. Die enigste liggies op Buffelsbaai was lampe (gas of lampolie) en flikkerende kerse.

Ons pak albums uit daardie era vertel ‘n storie van die kinders se grootword. Op letterlike honderde foto’s van luilekker uurtjies op die strand, vuurtjies, sonsondergange, wandelinge, stormsee en wat nog kan jy die babatjies sien uitrank tot jong mense… en die jong paar, Hennie en Tokkie, eers bloedjonk, stelselmatig sien ouer en ouer word.

Tokkie wat 25 jaar oud was toe ons Buffelsbaai ontdek het, vier Sondag daar haar 63ste verjaardag. Marisa, ons jongste, is getroud met Brent Claassens en is die ma van drie seuntjies, die tweeling Jacob en Thomas (amper 5) en Christopher (5 weke). Ouboet Johan is diep in die dertig, getroud met Mariza en die pleegpa van ‘n vierde seuntjie in die familie, Michael ( halfpad tussen 2 en 3).

Die foto hierbo is van die seekant af – d.w.s. seker van ‘n bootjie af geneem. Heel links onder steek ‘n piepklein stukkie uit van Kop-bo-Water, prof. Bethel Muller van Stellenbosch se wit huis met die blou dak, wat die wondere van Buffelsbaai vir ons ontsluit het. Net regs van hom, die donkergeel huis, is Kammarus waarheen ons later weens logistieke redes uitgewyk het. Dit het behoort aan prof. Vaatjie du Toit, in lewe ginekoloog van Bloemfontein en later dekaan van Maties se mediese fakulteit, en sy vrou, Lida. Die huidige eienaars is McSeveny’s van die Rand.

By daardie twee strandhuise, wat ons soos ons eie gekoester het, het ons dikwels ook saam met ons ouers gekuier. Toe Pa Malan sterwende was aan kanker, was Buffelsbaai die bestemming van sy heel laaste vakansie. Hy was broos en Ma het om hom gekloek. Die laaste dag het hy haar ontglip. die skuifdeur stilletjies soos ‘n stout kind oopgestoot, op Kammarus se dek gaan staan en behaaglik die vars, sout seelug ingeadem. Sy oë het geblink – vir oulaas. Daardie toneeltjie het my met ‘n diepe weemoed vervul. Ek het tussen die rotse my hart gaan uithuil.

Dit is na Kammarus waarheen ons nou na al die jare terugkeer. Vrydagmiddag sal die vuurtjie vroeg-vroeg aan die seekant voor die huis aangesteek word vir ‘n braai soos seker meer as 100 keer tevore. Laat ek egter maar erken dat skoonma Marietjie van Wyk (amper 95 en nou in ‘n versorgingsoord) meer as een aand ‘n papierbord moes staan en waai om ‘n trae Van Deventervuurtjie ‘n bietjie aan te wakker!

Die onhandige gesukkel om soms in die seebriesie ‘n vleisie gebraai te kry, is deel van ons skat van Buffelsbaai-herinneringe. (Tokkie beweer dit was nie onhandigheid nie, maar eenhandigheid. In die een hand was konstant ‘n glasie!)

Ons brand om herinneringe met die kinders te deel en hulle die wonderlike plek te wys waar ons altyd so gelukkig was; die yslike preekstoelrots reg voor die huis wat jou nooi om te klouter, die poeletjies met seekatte, seesterre en klein vissies, die eksklusiewe “private” strandjie ‘n klipgooi van jou voordeur waar jy kan bak en brou soos jy wil, die strandkafee waarheen kindertjies alleen kan stap…

Vergeet ook nie die middag van die Groot Skrik nie toe ‘n reuse-fratsbrander skielik bo-oor daardie rots breek en opdrifsels tot teenaan Kop-bo-Water se voordeur aanspoel. Tokkie sien ‘n swart plastieksak in die skuimende water dobber en dink dis Johan se baadjie. Sy storm onstuitbaar die see in…. Gelukkig kon die bure vinnig gerus stel: die kinders is veilig. Hulle is skaars ‘n minuut voor die fratsbrander in ‘n ander rigting.

Vergewe tog maar: oor Buffelsbaai kan ek raak soos ‘n grammofoonplaat wat vasgehaak het. Ek sal my maar inhou en net nog vertel van die “afspraak” tussen ‘n Bloemfonteinse leraar en sy vrou oor waar die eerssterwende vir die langslewende sal wag – op Buffelsbaai se strand natuurlik!

Ja, Buffelsbaai het iets van ‘n hemelse kwaliteit aan hom wat sulke denke stimuleer. Vir my het dit tot die volgende versie met die titel Hemel geïnspireer:

Die trein stoom in /by die stasie Hemel/dis berg, see en sand/’n mensegewemel/‘n engel knik skalks – “Oom’t reg geraai/die hemel is wel/nes Buffelsbaai.”

NASKRIF: Ons is altyd in die somer Buffelsbaai toe. Volgens my kollega van baie jare Johan van Wyk kan jy ook ‘n perfekte wintervakansie op Buffelsbaai deurbring. Jy het net drie dinge nodig: ‘n blondine, ‘n bottel Old Brown-sjerrie en ‘n “baaisiekel”. Vra jy hom: “En die baaisiekel dan?” was sy antwoord: “Om die blondine te stuur om nog Old Brown-sjerrie te gaan haal as dit opraak!”


3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page