Om te wil help. Dis nogal ‘n vlakvark-eienskap. Jy begin net afpak daar in Sabiepark, waar ons bosplek is, dan weet hulle al van jou. Dadelik word nader gestaan en tussen die motor en die voordeur heen en weer gedraf.
Jy moet maar versigtig trap met jou arms vol blikke, bokse en bottels as jy nie oor een van die “verwelkomingskomitee” se lede wil val nie.
En haal nou net ‘n verfkwas uit. Wat ‘n vlakvark aan ‘n verwery so boei of bekoor, is enigiemand se raaiskoot. Toe Tokkie ‘n dennehoutkassie op die agterstoep vernis, het ‘n “inspekteur” haar geen oomblik in vrede gelaat nie. Sy moes net waak of die blik vernis beland op sy sy.
Kapous Mouton kon in soortgelyke omstandighede by sy boshuis, Vreklekker, nie sy natuurlike ondeundheid onderdruk nie. Toe ‘n vabond weer sy snoet omtrent binne-in die verfblik druk, gee Kapous hom ‘n wit blerts oor die ete en drinke. “Ek merk jou nou as my vlakvark,” kondig hy plegtig aan — en voltrek net daar en dan ‘n buitengewone bos-“doop”. Dae daarna het “Kapous se vlakvark” nog met die wit streep soos ‘n Kainsmerk op sy gevreet geloop.
Vlakvarke — Tarlehoet se mense (dis nou die Van D’s) noem hulle “tannemanne” na aanleiding van ‘n geliefde kierie met ‘n vlakvarktand as handvatsel — sien glo maar vrotterig. Dis dalk die rede dat hulle soms so erg lastig kan raak.
Hulle moet mos darem seker maak presies wat die dowwerige beeld is wat hulle vaagweg waarneem (deur ‘n spieël in ‘n raaisel!) en watter vreemde ding die gedaante aanvang. Soos met Tokkie en Kapous se gewerskaf.
Of as my vrou die oggend elke lantern en lamp in ‘n kring om haar pak om hulle met lampolie te vul. Of as jy ge-laken om jou nek vir ‘n haarsny in die bos onder ‘n boom gaan plaasneem. Selfs net as jy op die stoep sit en kuier. Meer as een Tarlehoetgas is al met blou kolle vort huis toe, soms op heel ongemaklike plekke. Hulle wou mos ‘n vlakvark te naby laat kom om te groet!
Maar ons is lief vir ons vlakvarke en het hulle gewelldig gemis toe, wat die kenners noem, “predatoredruk”, hulle in ‘n stadium totaal uitgeroei het. Gelukkig is onlangs begin om uit die Kruger-wildtuin aan ‘n nuwe vlakvarkbevolking te begin bou. Nou hardloop hulle darem weer stertjie-orent in Sabiepark rond.
Een rede vir geneentheid teenoor hierdie “alkant leliks” — ‘n betiteling deur ‘n dier-onvriendelike vriend — kan wees dat die uitdrukking “mooi van lelikgeid” die phacochoerus aethiopicus dalk meer as elke ander wilde spesie soos ‘n handskoen pas. Later kyk jy verby die ruwe uiterlike — dis tog maar net veldiep — en ontdek ‘n warm hart.
Die hegte band tussen mens en vlakvark het waarskynlik ook ‘n ander oorsprong. Dit is dat laasgenoemde so bedremmeld kan lyk; kompleet nes iemand of iets sy kos afgevat het. Die skrefiesoë wat so sonder ophou trane stort, is feitlik gewaarborg om menslike jammerhartigheid te wek.
Daarvan het ek uitgebreide ervaring Toe deernis vir diere uitgedeel is, was my vrou mos voor in die tou. Terwyl sy ‘n keer die swembad skoon suig, is ek in die lapa doenig.
‘n Lastige vlakvark foeter al tussenin totdat ek streng waarsku: “Blikskottel, as jy my Weber omsmyt, gaan ek baie gatvol wees.”
Tokkie, nie links nie, berispe my dadelik van die swembad se kant af: “Ag nee, Hennie man, kyk hoe nat van die trane is sy wange nou. Hy wou ook maar net help!”
Op die foto is ‘n ou met wegle-tande op Tarlehoet se stoep afgeneem waar hy by die skuifdeur inloer. Seker maar net kom “help” met iets!
Comments