top of page

HELDER STEM VAN FM (EN AM)

Uitmelkbos

Die radio is in my lewe vandat ek as pikkie vroeg in die 40’s by Oom Danie en Tant Susie du Plessis by Kaallaagte, distrik Paul Roux, my aan dié wonder kon verlustig. Ek kan nie onthou dat ons enkelouer-gesinnetjie toe al ‘n “draadloos” gehad het in ons skakelhuisie in Diagonalstraat, Kimberley, nie.

Om die regte stasie in te stel, was destyds dikwels vir lomp vingers ‘n aansienlike uitdaging. Al wat jy aanvanklik kon hoor, was ‘n geruis en ‘n gekrap. As jy uiteindelik die stasie het, trek die nuusbulletin al ‘n ent ver. Die batterye vir die radio is nog met ‘n windlaaier gelaai.

In 1948 is die flitsberigte oor die verrassende NP-sege in die algemene verkiesing opgeslurp in ons voorhuis in Kimberley, waar ek saam met ‘n opgewonde Oupa Herklaas Visser geluister het.

Van die eerste sportuitsendings wat my behoorlik beetgepak het, was stoei: Willie Liebenberg vs. die Amerikaner Sky High Lee. Ek het ook graag na boks geluister. Vic Toweel was my man.

Die Springbokke se rugbytoerdeur die Britse Eilande in 1951/52 (die Hennie Muller-era) het ek in Botanic Grove, Durban, gretig gevolg. Die dag toe die Bokke teen die Londense Graafskappe verloor, het ek in die laaste minute betraand om en om die huis gehardloop.

Krieket het later gekom – ai, die wonderlike veldwerk van daardie swiepende arend Colin Bland het die kommentators na woorde laat tas.

En musiek – eers die “Hit Parade” op LM-Radio (Lourenco Marques) – Doris Day se “Que Sera, Sera” en daardie klas ding. Later “U Eie Keuse” van Kosie Jooste se tyd af. Toe ek in 1959 Kollegetehuis op Tukkies toe is, was een van my trotse besittings ‘n radio en platespeler in ‘n yslike houtkas. In daardie tyd het ek operamusiek ontdek.

Die radio is ‘n magtige, magnetiese medium. Deur die jare kon ek na pakkende uitsendings luister: van staatsbegrafnisse, die Kennedy-moord, die koms van die Republiek in 1961…

In my jare as redakteur van Die Volksblad en hoof van Naspers se koerante was ek bevoorreg om soms my eie stem oor die radio te hoor met uitsprake oor die een en die ander. Laat my maar bely: dit het my ego nogal gestreel.

Radio Oranje het my ‘n keer kans gegee om oor die middaguur op ‘n Sondagmiddag my eie gunstelingmusiek voor te speel. Bietjie praat, bietjie musiek (“Milord” van Edith Piaf, die “Largo”-gedeelte uit die Eerste Wêreldsimfonie van Dvorak, “O Holy Night”: van George Beverly Shea en so aan voort) – ek het die program iewers op band.

Een radio-onderhoud, met wyle Chris Louw van “Monitor”, oor my omstrede voorlegging aan die Waarheids- en Versoeningskommissie, het ek in my nagklere uit my slaapkamer op Melkbos gevoer. Ek was toe hoof van Naspers se koerante. Dit het so vuurwarm geword dat ek uit die bed gespring en met die telefoon in die hand op en af in die kamer gemarsjeer het.

Na aftrede het my stem vanselfsprekend mettertyd geheel van die lug verdwyn – tot verlede Woensdagaand toe Amanda Olivier in haar program “Kopskuif” op RSG met my ‘n gesprek gevoer het oor o.m. my nuwe humorboekie “Praat-praat in Tamatiestraat”.

Verskeie aspekte was vir hierdie gryse genotvol (laat ek dit maar pront erken). Die heel-heel lekkerste was om van ‘n string ou vriende te hoor.

Ek was in 1962 huisvoorsitter van Kollege-tehuis, Willem van Niekerk voorsitter van Sonop en Tom Gunning van Voortrekker. Van Willem het ek net na die gesprek ‘n SMS gekry en van Tom ‘n e-pos. Is dit nie merkwaardig nie, soveel solidariteit van drie huisvoorsitters van drie strydende koshuise in 1962!

Van Koos Reinecke wat saam met my in Kollege was, was daar ‘n oproep van sy plaas in die distrik Schweizer-Reneke. Hy het die middag in sy bakkie gehoor “Van Deventer praat vanaand”. By die huis sê hy toe vir “die vrou” : “Ter wille van die ou dae wil ek na die man luister “

Van my matriekmaat, Willem Hartzenberg, was daar ‘n SMS, asook van ander studentemaats, oud-kollegas, ou bure in Bloemfontein, nuwe vriende wat in die aftreejare bygekom het, vreemdes.

Nogal onverwags was die oproepe van skynbaar eensames wat net gou ‘n woordjie met die verre vreemdeling wou wissel.

Dankie, radio. Dankie, RSG. Dankie, Amanda Olivier. Op 70 beteken al hierdie dinge vir ‘n ou se selfbeeld ’n lot

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page