
Dawie Strydom, my ou Sabieparkmaat van erf 333, Rustig, in Apiesdoringlaan het enkele jare gelede die ewige heldeverering van ‘n duiker-ooitjie verdien toe hy ‘n luislang met ‘n stok pak om haar lammertjie te red.
Die reptiel was besig om by Dawie-hulle se huis die laaste asem uit die duikertjie se gekneusde lyfie te forseer. Dawie druk toe die stok in die slang se keelgat, gryp die lammertjie en voer hom suikerwater totdat hy wankelrig orent kom.
Hy is dus ‘n man van daad, soos jy van ‘n Springbok in die hengelkuns sou verwag. Hy is egter ook ‘n man met ‘n klein hartjie.
Die dag toe ek die gesoute Sabieparker leer ken het, 12, 13 jaar gelede, wou hy by ‘n jaarvergadering van Sabiepark vertel hoe twee swart personeellede, Sipho en Elvis, hom ná ‘n hartoperasie met ‘n stukkie uit die Tsonga-Bybel en ‘n gebed tuis kom verwelkom het.
Dié diep Christen-mens was in trane lank voor die einde van sy storie.
Hy is ‘n man van die boer-maak-‘n-plan-soort. By Rustig is onder meer ‘n spitbraai wat met ‘n fietsketting werk, en sonpanele wat jy al agter die son aan kan skarnier – alles sy eie prakseersels.
Hy is, by alles, ‘n man wat ‘n mondfluitjie kan laat sing.
Wanneer Dawie sy mondfluitjie uithaal en “God sy met u tot ons weer ontmoet” in die helder volmaan, by die flikkerende skaduwees van die laaste hardekool-vlammetjies, eerbiediglik opklink, kry ‘n uurtjie om ‘n vuurtjie ‘n ewigheidsdimensie.
Aanstaande Saterdag (3 Julie) hou Sabiepark sy 28ste jaarvergadering. Die vorige 27 het Dawie en sy vrou, Annatjie, op ‘n paar na almal bygewoon. In ‘n kwarteeu het Dawie die plek wat hy so innig lief het, soos ‘n slaaf gedien. Hy was in die komitee, het heinings gespan, bruggies gebou, planke geslaan… Gee hom enige stuk gereedskap. Sy hande staan vir niks verkeerd nie en ‘n lui haar groei nie op die Strydom-kop nie.
Saterdag sal die Strydoms se plek leeg wees.
Daardie skêmerwereld van min onthou maar baie vergeet, van weet en ook nie meer nie weet nie, het hom oplaas ingehaal. Onomkeerbaar.
Iemand anders sal die goedkeuring van die notule moet voorstel.
By die tradisionele agternabraai met reusepotte pap en “sheba” (‘n voortreflike plaaslike tamatie-en-uiesmoor) sal ons vir seker ‘n nostalgiese heildronkie op die wellewende Strydoms by hul huis op die verre Outeniekwastrand drink, en die goeie tye saam onthou.
Met Cellar Cask se wit Johannisberger Select – hul gunsteling.
Kommentare