top of page
  • Uitmelkbos

HEEN EN WEER OP CANAL GRANDE


Op die waterbus op die Canal Grande

Romantiese Venesië met sy Canal Grande, Piazza St. Marco, Ponte di Rialto, vaporetti en singende gondeliers lok glo iets soos 60 000 mense per dag – meer as die stad se bevolking. Vir twee dae was die Van Deventers deel van daardie gemaal.

Op 16 April het die MSC Opera vroegoggend die kanaal binnegevaar, stadig en statig verby St. Markus (of La Piazza – sommer net die Plein – soos die plaaslike mense dit noem). Voordat ons voet aan wal gesit het in wat deesdae die gewildste bestemming vir skeepvaarte in Europa is, was al vyftig poskaartmooi Venesiëfoto’s op my Canon.

Dit was ‘n derde besoek in vier dekades aan die sjarmante stad met sy kronkelende kanale, glansryke middeleeuse erfenis en diepgeworteklde tradisies – al drie, helaas, maar kortstondige kuiertjies. Oor ‘n stad met so ‘n unieke eie karakter en so ‘n ryke oes aan trekpleisters moet ‘n vlugtige besoeker liewer nie slim probeer klink nie.

Drie wenkies wil ek tog waag, veral vir mense van gevorderde jare (wat nie meer so rats is nie) en wat beperkte beursies het of sommer net in beginsel onwillig is om deur hul nekke te betaal.

Die eerste gaan oor gerief. Soek ‘n hotel so naby aan een van die drywende watertbushaltes as moontlik. Onthou jy moet jou tasse oor daardie hobbelrige straatjies deur smal stegies en oor stampvol bruggies en pleintjies sleep-dra. Ons was in ‘n knus familiehotelletjie in die Salizzada San Lio, halfpad tussen die Rialto en die Plein. Kon gerieflik in die hart van die stad rondstap. Die waterbus was byderhand.


Ons hotel, gerieflik naby die Rialtobrug

Die tweede wenk is oor die vaporetti (waterbusse) wat die kanale deurkruis. Enkelritte teen €7 elk kan duur uitwerk. ‘n Dagpas kos €20, ‘n tweedaepas €30 en ‘n driedaepas €40. Daarmee kan jy na hartelus rondrits, ook op die “motoscafo” (vir sykanale) en die groter “motonave” (soms met twee dekke) wat stasies soos die Lido, Punta Sabioni en Treporti bedien. Ons geliefkoosde uitstappie was van die Rialto na die Piazzale Roma, dan terug via die Lido. Is verskeie kere heen en weer op die Canal Grande.

Mik net vir ‘n buite-sitplek. Dan is foto-geleenthede volop. Het selfs twee bruidspare op balkonne langs die Canal Grande afgeneem. Vrydag is blykbaar ‘n gewilde troudag. Ons is ook by mooi boomryke parke verby, vrolik groen met nuwe blare. Venesië bestaan nie net uit kanale, geboue en bote nie.


Fotogeleenthede is volop.

Maar wees gewaarsku. As jy by die Piazzale Roma op die verkeerde bus klim, ry jy anderkant om terug, oop see langs verby die hawe en nywerheidsgebied. Gelukkig was ons nie onder tydsdruk nie. Kon ontspan en gelate daardie onverwagte ver roete deur die onbeboude waters “geniet”.

Mense wat Venesië ken, sal dadelik waarsku: Moet net nie die waterbus met ‘n watertaxi verwar nie. Stem. Laasgenoemde – kleiner, private motorbootjies – kos ‘n pakkie. Vriende moes die Saterdagoggend lank voor dagbreek lughawe toe. Hulle het nie juis ‘n keuse gehad nie en moes ‘n watertaxi bestel. Die rit van 30 minute van reg voor hul hotel het hulle €120 gekos. Daarna het ‘n bussie hulle tot in die lughawe gebring vir €30. (Ook vir ‘n kort gondelrit ter wille van die romantiek dok ‘n mens €80 tot €100 op – ‘n plaas se prys teen die huidige randwaarde.)

Ons, aan die ander kant, is na die stasie, die Stazione di Venezia Santa Lucia, sonder om ‘n ekstra euro op te dok. Die rit van die Rialtohalte af tot by Ferrovia – sonder enige stop tussenin – was ingesluit by die koste van ons dagpas. Ferrovia is die halte reg voor die Santa Lucia. Jy sleep jou tasse daarvandaan tot op die regte platform met ‘n lied in die hart.


Die Rialothalte op die Canal Grande.

Daardie stasie moet ‘n mens nie vlak skat nie. By ‘n netjiese buffet kan jy wyn en ‘n hele verskeidenheid tradisionele eetgoed aanskaf. Jy kan buite by tafeltjies aansit en die mense sit en dophou soos hulle kom en gaan. Die kos vergelyk in die algemeen gunstig met dié wat jy ten duurste by oulike straatkafees of, des te meer, by volbloedrestaurants met kelners, kerslig en klaviere kry. Hoe nader aan die Plein of die Rialto des te duurder natuurlik.

Dalk die belangrikste wenk vir laaste: Op die Santa Lucia is volop sindelike toilette waar jy vir ‘n appel en ei jou lope kan loop. In ‘n stad wat berug min sulke geriewe vir sy derduisende toeriste bied, is dit ‘n geweldige pluspunt ná ‘n paar glasies bier of wyn.


Die Opera saam met die gondels op die Canal Grande.

Naskrif: Groot skepe wat op vakansievaarte duisende ekstra toeriste op Venesië kom stort, is nie juis gewild in daardie geweste nie. Word beskuldig van besoedeling en dat hulle golwe veroorsaak wat geboue se fondamente uitkalwer. Op die Canal Grande mag die vakansieskepe nie aankondigings doen wat buite op die dekke hoorbaar is nie. Daar is ook ander beperkings.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page