top of page
  • Uitmelkbos

HEEL VOOR DIE BERG OP


Groot van postuur was hy nie; maar ruim van gees en met ‘n geniale verstand. Sy nalatenskap was enorm. In die soeke na ‘n nuwe lotsbestemming vir die Afrikaner was hy in die jare 80 die voorklimmer teen ‘n steil berg wat plek-plek amper onbegaanbaar wou lyk. Met idealisme, dodelike logika en onwrikbaarheid het hy sy mede-Afrikaners in daardie invloedryke organisasie saam boontoe getrek.

Ek bring hulde aan prof. Pieter de Lange,oud-voorsitter van die Afrikaner-Broederbond, wat op 93 oorlede is. Hy was in die algemeen ‘n oopkop-Afrikaner; ‘n toegewyde onderwysman; ‘n uiters toeganklike akademikus en ‘n minsame mens, soos Gustaf Pienaar op my FB-blad tereg uitwys.

Van die RAU was hy ‘n skitterende rektor. Ek onthou hom ook as direksielid van die Nasionale Pers, altyd beredeneerd met fyn formulerings. Vergeet nie sy rol as voorsitter van die De Lange-kommissie van ondersoek na die onderwys nie.

Dit is egter as voorsitter van die AB wat ek hom die beste leer ken het danksy my voorreg om twee termyne onder sy uitnemende en besielende voorsitterskap in die uitvoerende raad van die AB te dien.

Sy woorde kom by my op: “Die grootste risiko (vir die Afrikaner) is om geen risiko te neem nie.” Die betekenisvolle woorde is meermale geuiter by vergaderings van die uitvoerende raad, waar uitdagender, prikkelender en stimulerender oor die Afrikaner se toekomsbestemming gedink, gepraat en geredeneer is as op enige ander plek.

Ek onthou ook sy woorde: “Die AB tree uit die skadu in die lig”. Dit was in Desember 1993 toe die invloedryke organisasie onder sy leiding die ou kleed van vertroulikheid laat vaar het om verder in die ope te opereer. Dit was ‘n onvermydelike stap. Die ou vertroulikheidsaard van die AB was in ‘n nuwe era van deursigtheid ‘n anachronisme.

Met verkneukeling onthou ek die beroering in ver-regse geledere in 1989 nadat berig is dat prof. de Lange ‘n konferensie in Sussex saam met ‘n hoë Russiese amptenaar, Joeri Joekalof, bygewoon het. Chester Crocker van die VSA was o.a. ook daar. Ek was as koerantredakteur na daardie konferensie genooi, en in sommige berigte is my teenwoordigheid ook vermeld.

Hoe sensitief sake toe was, blyk uit die briewe wat ontvang is. Wat was ons mandaat? Waaroor is onderhandel?

Ek kon in volslae eerlikheid antwoord dat van “onderhandelings” geen sprake bestaan het nie. Namens wie sou ons in elk geval kon “onderhandel” en waaroor? Dit was eenvoudig ‘n ope gesprek om ‘n ronde tafel, waarin die deelnemers niemand anders verteenwoordig het as hulleself nie. Ons was daar in ons professionele hoedanighede. Die nut van sulke byeenkomste is dat ‘n mens eerstehands verneem wat ander rolspelers dink, en dat jy jou eie standpunte teenoor hulle kan verdedig. Die Rooi spook het gelukkig gou rus gevind!

In Oktober 1989 is ‘n AB-groep onder leiding van prof. De Lange na Suidwes (nou Namibie) gestuur vir ‘n insiggewende inligtingsbesoek. Ons het vergaderings bygewoon onder meer in Oshakati en Khomasdal. Ons was by die Administrateur-generaal, by die Gebiedsmag, by Swapol, ons is toegespreek deur politici, leraars en kultuurleiers.

Wat van daardie klandestiene besoekie nie openbare kennis geword het nie, genadiglik, is dat die groepie, wat prominente jong Nasionale LV’s ingesluit het, met hul aankoms deur hul gashere op die lughawetjie by Namutoni vergeet is. Hulle moes toe maar voetslaan kamp toe – leeuwệreld ofte nie. Gelukkig was die leeus daardie middag elders geokkupeerd, verveeld of aan die slaap, en was dit nie nodig om agterna ‘n veruideliking vir die avontuurtjie vir enigiemand uit te dink nie!

Ai, die land raak vinnig armer aan die groot geeste van die era waarin ek bevoorreg was om te lewe.

(Ek het hom as Peter de Lange geken. Wikipedia gee egter sy name aan as Jan Pieter.)

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page