top of page
Uitmelkbos

HASIE, HASIE VAALJAN


Nie alle studenteliedjies wat ek lustig gesing het, sal ek vir my kleinkinders leer nie. Die enetjie in ‘n vorige blog is twyfelagtig – veral daardie “laaste wens” van “just pickle my bones in alcohol”.

Een wat ek hulle vrymoedigheid sal leer, is Hasie, Hasie Vaaljan, ‘n onskuldige liedjie wat Peet Langley van Alldays (broer van Thomas, politikus, en David, verspring-atleet) altyd in Kollege op sy kitaar uitgetokkel het.

Sien, ons was soms voorbeeldige jong manne wat nie net altyd met skuinse grappies besig was nie.

Hasie, Hasie het in Penguin Place 11 ‘n nuwe relevansie verkry met die verskyning op die toneel van ‘n werklike wit hasie met swart ore – is alle troetelhase wit met swart ore? Hy behoort aan die bure maar om redes van sy eie verwyl hy die meeste van sy tyd op ons werf verwyl. Ek sê hy. Dit kan ook ‘n sy wees. Ek weet nie.

Hy/sy en Tokkie kommunikeer lekker. Sy’t mos hierdie ding met diere.

Jy kan die haas nie miskyk nie as hy/sy met s/haar kenmerkende vaartversnellings s-draaie op die voorstoep begin gooi, of agter die blombak in die voortuin skadu kom opsoek vir ‘n siesta.

Veral vir die klein mannetjie Christopher (2) is Hasie ‘n bondeltjie vreugde, hoewel die twee ouer manne, Jacob en Thomas (7), die mak diertjie duidelik darem ook oulik vind.

Sondag is hier ‘n Moedersdagbesoek afgelê – deur die haas sowel as die kinders. Ouma was in haar noppies dat die twee besoeke oorvleuel het. Christopher was onbeteueld opgewonde.

Agterna besef ek die tyd was logisties uitgeknip om die seuntjies Hasie, Hasie Vaaljan te leer.

Die woorde lui:

Hasie, Hasie Vaaljan

Olifant speel kitaar,

Slakkie blaas die saksofoon

En Skilpad sê net poing-poing, poing-poing ….

Studentemaat Pierre le Roux van Mosselbaai rapporteer hy het sy kleinkinders met Hasie eindeloos vermaak. Hy sing die eerste deel. Hulle val in by poing-poing, poing-poing. Dit het hulle laat kraai van plesier.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page