Baie dringend benodig – Perry Como se liedjie”I love you and don’t you forget it.” Hierdie klein advertensie in Die Burger het mense dae lank laat wonder. Die storie agter die storie is dat ‘n weduwee daarna op soek was vir haar oorlede man se gedenkdiens. Dit was sy gunsteling-lied.
Ek hou ook van Perry Como, maar verkies persoonlik treffers soos “Magic moments”, “Don’t’ let the stars get in your eyes” en “More”. Vir ‘n gedendiens sou my keuse op “I believe” val.
Vir my eie gedenkdiens (Tot-siens-diens) is my keuse egter nie Perry Como nie. Ek soek die “Largo” uit die “Nuwe Wêreldsimfonie” van Dvorak, uitgevoer op die orrel deur Melkbos se gewese orrelis, Riana Hanekom.
Die storie agter die storie is dat ek hierdie meesleurende Dvorak-skepping leer ken het toe ek einde 1958 vakansiewerk by Die Volksblad in Bloemfontein gaan doen het. Kollega Wiets Beukes het dit graag op sy draaitafel gesit.
Vir my was dit simbolies. Die eerste proesel van die grootmens-joernalistiek het inderdaad ‘n “nuwe wêreld” vir my geopen. “Going home …” dit is boonop ‘n vertroostende wete as jou dag aanbreek om finaal afskeid te neem.
Elkeen van die 20 liedere op my en Tokkie se “Ons eie keuse” in die blog hierbo het natuurlik “’n storie agter die storie” hoekom ons hulle as “hartsmusiek” reken. Die redes kan sentimenteel of histories wees, soos hierbo. Soms het die kunstenaar die deurslag gegee. Diana Ross (“Amazing Grace”), Anna Maria Alberghetti (“Fa La Nana Bambini” – die treurige wiegeliedjie met die snik aan die einde), Edith Piaf (“Non,je ne regrette riem”) en die Tygerberg-kinderkoor (“Jantjie”) is maar ‘n paar.
Van Piaf het ons ‘n langspeelplaat, “Homage a Piaf”, as trougeskenk gekry. Daarop sing die “Mossie van Parys” o.m.ook “Milord” en “Le Trois Cloches”. Aangrypend! Die smeulende Alberghetti het ek leer ken toe ek vir Tokkie op Bultfontein gaan kuier het. CD’s van haar is skaars. Ek het onlangs een van Duitsland laat invoer – teen ‘n prys.
“A Country style Christmas” (foto bo) is die naam van ‘n reeks Kersplate wat ons in 1976 in kniediep sneeu in Cambridge, Massachusetts, gekoop het. Daardie “wit Kersfees” het diep in ons harte ingeboor. Die Amerikaanse Kersmusiek was vir ons hemels. George Beverly Shea – wat ‘n stem!
Amper 20 jaar later het ‘n besoek aan Oostenryk sy eie musiek-herinneringe in sement gegiet. Johan Strauss II se ”Nonnekoor” en die onoortreflike Mozart se “Elvira Madigan” val in daardie kader.
“Stille nag” was ‘n seker keuse vir my en Tokkie se lys. Maar watter opname? Uiteindelik moes ons kies tussen die Amerikaner Carl Smith se weergawe op “A Country style Christmas” en ‘n opname van die Bielefelder Kinderchor op ‘n plaat wat ek as nuusredakteur van Die Volksblad amper 50 jaar gelede by Lufthansa present gekry het. Laasgenoemde het net-net gewen.
Die oorheersende SAUK-storie (“radiosepie”) van die 60’s was “Soetmelksvlei” en in die volksmond was die “18de Variasie uit ‘n rapsodie op ‘n tema van Paganini” gou bekend as die “Soetmelksvlei-serenade”. Ek het my neef Ben Smith van Pretoria altyd (tot my heimlike lekkerkry) verstom as ek die regte naam so kon afrits.
Wyle Fred Schnetler, meesterlik op die gebied van motors en musiek, het die pikante gewoonte gehad om vir vriende op bakenverjaardae CD’s te sny met musiek uit hul geboortejaar. Toe ek in 2001 60 word, was daar ‘n Fred-CD in die pos. As toegif Jacques Brel se ”Marieke” bygevoeg. Joe, luister ek graag.
Die naam van die komponis van “Gebed van ‘n jong meisie”, Baderzwska-Baranowska, is ewe seer ‘n mondvol as die “18 Variasie….” ens. Die hemelse musiek het ek en Tokkie na ‘n lang tyd so drie jaar gelede by Cas en Nella Jacobs in Centurion gehoor. Geen twyfel daarna nie dat dit op ons lysie hoort!
Van gebede gepraat: te veel CD’s van wisselvallige kwaliteit kom deesdae op die mark met ‘n geestelike inslag. Rudi Neitz se “Hoe groot is U” en Anneli van Rooyen se “Seënbede” (wat aan my oorlede swaer Neels Nothnagel behoort het) roer my egter elke keer.
Tokkie was ‘n belowende jong pianis met hoë Universiteit van Suid-Afrika-kwalifikasies en ek ‘n dromer dat ek ook nog een dag my vingers so oor die klawers sou kon laat gly. Natuurlik moes daar heelwat klaviermusiek op ons lys kom. Tsjaikofski se “Klavierkonsert Nr.1” was ‘n vanselfsprekende keuse. Ons het in die dae van ons jonkheid ‘n plaatjie daarvan in Bloemfontein gekoop. Wessel van Wyk se idilliese weergawe van Brahms se “Wals opus 39, nr.15” verdien ook sy plek.
Ag, maar dit kan ek eintlik van al die ander sê, hoewel ek darem nie elkeen se storie hier kan vertel nie. Ek hoor reeds mense brom dat my blogs darem te lank is.
Maar dit wil ek nog graag byvoeg: dat ons, nadat ons ons lysie gemaak het, steeds heelwat verheffende musiek hoor wat ons graag ook sou wou opsit. Nie een van die uitsoek-20 sou ons na nadenke egter wou weglaat nie.
Comments