Die uitgestrekte groen oase wat Sabiepark se piekniekplek is, hou nooit op om my te bekoor nie. Die toneel op die foto sien ek Sondag weer – nie heeltemal so in sy somerglorie nie, maar altyd ‘n stukkie goue aarde. Hartsgrond.
Ons vlieg al teen agtuur O.R. Tambo toe. Maar dan kry ons eers om 15:00 ‘n bussie Nelspruit toe waar Johan, ons seun, ons kom haal met die Honda. Die hele toets se duur seil ons deur Mpumalanga. Sal eers teen 21:00 by Wildevy 154 stilhou – te laat vir ‘n draai by die piekniekplek.
Sondag vroeg sal ek oorstap en vir Solly, opsigter van die piekniekplek, gaan groet, of vir Elvis as dit Solly se afnaweek is. Hoop ten minste ‘n paar seekoeie sal my in die Sabie inwag … dalk ‘n olifant wat vroeg rondloop of ‘n eensame ou buffelbul besmeer met modder, ‘n sogenaamde “dagga boy”.
In “Duisend dae langs die Sabie: het ek oor Solly se werkplek so geskryf: Dink net, jou “kantoor” is aan die Sabierivier met ‘n onbelemmerde 180-grade-uitsig vir kilometers lank op die rivier en die Krugerwildtuin aan die oorkant. Die blare van die Bosveldbome vorm bedags ‘n dak oor jou kop; die helder sterrehemel snags. Roetine is aan jou onbekend. Van stadsgewoel en verkeerslawaai weet jy niks.
‘n Verrassing op jou dagprogram – as jy ekstra gelukkig is – is dalk ‘n leeuvangs vlakvoor jou. Soms kom soek ‘n luiperd sonnetjie, maak wildehonde ‘n vinnige draai of slenter ‘n jagluiperd nonchalant oor die klippe in die rivier. ‘n Trop olifante wat met ‘n gedruis die water inplons of honderde buffels wat die riete swart spikkel, is nie ongewoon nie. Ensovoorts.
Die kinders wat, na lang afwesigheid, weer sedert Maandag daar is, Johan, Mariza en Migael (5), het die week al heelwat olifante by die piekniekplek raakgeloop, onder meer die ou grote vlakby die uitkykdek. Mariza laat weet dat sy nie weet wie het die grootste vir mekaar geskrik nie: Migael of die olifant. Die olifant is ná ‘n luide trompetter egter vinnig die bosse in.
Hul groot skrik was egter nie die olifant nie – wel ‘n slang wat hom om die braairooster se handvatsel gekrul het terwyl die tjoppies gaar word. Volgens Johan is dit een of ander onskadelike soort – rooierig met wit kolle. Nietemin, ek skrik my mos “bevange vir al daai slange van Mpumalange”. Hoop maar die wêreld by die braaiplek het vir daardie onwelkome kuiergas ‘n bietjie te warm geword.
Uit Sabiepark blog ek weens logistiese redes minder gereeld. Aansienlik minder. Dus daal ‘n Groot Stilte nou op hierdie ruimte neer. Groetnis. Tot 11 Augustus hiberneer die Van Deventers – en dis ook geen oomblik te laat nie. Mintag, die Kaap is, soos lanklaas, grys, nat en koud.
Naskrif: Die mooi foto van Sabiepark se piekniekplek kom van die Sabieparkblad op Facebook. Besoek dit gerus. Gaan na Facebook en tik in die soekvenster Sabiepark. Dis die eerste wat opduik. Gaan “like” hom.
Comments