HvD en Wiekie Moolman
HvD en Manie Steyn
Aan ‘n hand op die skouer kan allerlei betekenisse geheg word. Een betekenis, in my oë, is hegte vriendskap. Wat ‘n voorreg was dit nie om in 48 uur met twee jarelange – amper lewenslange – vriende hand op die skouer afgeneem te word.
Een, Manie Steyn van Krugersdorp, het sy aanstaande 70ste in Krugersdorp gevier. Ons is Tukkiemaats van 1960 af, net-net duskant 50 jaar lank. Die ander is Wiekie Moolman, ook van Krugersdorp, wat op Melkbos kom kuier het. Ons is skoolmaats van 1954 af. In Potch-Volkies se Jack Pauwkoshuis was ons in 1957, 52 jaar gelede, die enigste twee matrieks wat ‘n kamer gedeel het.
Ek is in die versoeking om te konstrateer dat ons ‘n meisie ook “gedeel” het. Die vorige keer dat ek die storie van daardie “delery” vertel het, het ek egter uit vroulike geledere slae gekry. Ek verset my dus teen die versoeking.
Dat Manie en Wiekie albei Krugersdorpers is, is een van daardie eienaardige samelope van omstandighede wat soms voorkom. Hulle woon ‘n klipgooi (darem ‘n stewige een!) van mekaar af aan weerskante van die Key West-sakesentrum in Krugersdorp-Noord. Maar hulle ken mekaar nie.
Nietemin, die uwe se stram skouer het met ‘n skielike skietpyn gereageer toe ek my arm lig om die ietwat langer Manie se skouer beet te kry. Wiekie is weer korter (en veel-veel skraler) as sy ou kamermaat. Ná die seerkry met die Maniefoto het ek dit egter gerade geag om die skouervattery net aan hom oor te laat.
Ek gaan nie in vir onnodige fisieke pyn nie, en, soos die wyse donkie, stamp ek nie my kop twee keer teen dieselfde klip nie.
Maar wat wou ek eintlik sê? Eintlik net dit: dat min dinge kosbaarder is as ou vriendskappe. Soos iemand opgemerk het, is drie vreugdes van die ouderdom ou vriendskappe, ou boeke en ou wyn.
Manie, Wiekie, gelukkig is die elmboog darem nie te seer om nog so ‘n enetjie op vriendskap te klink nie!
Comments