Hubert de V. Coetzee
Onthou julle die knock-knock-speletjie?
Knock-knock, kom dit van die een. Who’s there? vra die ander. Hendrik. Hendrik who? Hen druk en daar le die eier, of Hen druk maar die eier wil nie uitkom nie.
Na die verkrummeling van John Vorster se politieke loopbaan, was een weergawe:
Knock, knock. Who’s there? John. John who? In ‘n nabootsing van Oom John se kenmerkende diep stem: Het julle my dan so gou vergeet?
Wyle Hubert Coetzee, vermaarde oud-grootbaas van die Nasionale Pers, sou dit wel vanoggend ook kon vra: Het julle my dan so gou vergeet.
Die Burger, van alle mense!
In ‘n berig oor Alba Bouwer (’n mens is dankbaar dat sy darem onthou word) word gemeld sy was voorheen met Hubert Coetzee getroud.
Hubert wie?
Die Burger verswyg dat Hubert de V. Coetzee een van die blink diamante van die Nasionale Pers was: besturende direkteur van 1966 tot met sy dood in 1969. In daardie kort tyd het hy veel vermag, en sy dood was vir die Pers ‘n pynlike verlies. (Moet byvoeg dat hy ook voorheen ‘n buitengewoon knap redakteur van Die Volksblad was.)
Een van die top-pryse in die Pers waarom die huidige geslag nog ywerig meeding, dra o.a. sy
naam.
As ek vandag die redakteur van Die Burger, Bun Booyens, was, het ek iemand uit die venster gesmyt by die Perssentrum in die Heerengracht, Kaapstad. Dalk het ek uit radeloosheid sommer self gespring!
Comentarios