“Haai, moenie van ons vergeet nie!” Amper as ‘n soort verwytende naskrif by die vorige blog oor die sebras en koedoes as stemmingskeppers by Sabieparkse aandetes, is die “lugverkeer” by Tarlehoet skielik weer op sy lewendigste.
Die bosnagape, wat sommer drie in ’n bondel, op die piesangtafel toesak, en die nagapies wat uit alle oorde stroom, dreun mekaar elke skemer behoorlik op. Tokkie moes gisteraand ingryp. Sy het die kerfies piesang met die oggend se “Star” bedek om ‘n oorhaastige ou grote uit te oorlê. Vir die kleintjies – steeds haar gunstelinge – is daarna wegsteek-stukkies op die etenstafel voorgesit.
Eersgenoemde was eers uit die veld geslaan. Maar hy het die gou die lekkernye onder die papier uitgesnuffel. Laasgenoemde het ewe vinnig agter die kap van die byl gekom, en met verstommende waagmoed van die skoorsteen op ‘n stoepstoel se leuning en van die leuning tussen ons op die tafel gespring om sy piesang op te eis.
‘n Dertigstuks of meer gebande muishondjies het skemer Sondag opgewonde om die huis gewoerts, en die voëlbad as ‘n bron van skoon drinkwater ontdek.
Sebras wat kom water soek, en gulsige vlakvarke boer hier. Jacob en Thomas sal nie glo hoe groot die vier kleintjies geword het nie. “Hul” klein kameelperdjie – die een op Brent se foto’s van die bevalling – is ongelukkig lankal skoonveld, waarskynlik bene en al deur hiënas verslind.
Toe ek enetjie tussen die bome gewaar, wou ek eers bly word, maar dis ‘n kleiner meneertjie wat eers die begin van Julie aangekom het.
Luiperds duik hier, daar en oral in Sabiepark op, veral by Gwarrieboslaan rond. Hierdie keer slaan hulle my en Tokkie egter oor. Selfs op ons vrugbare Balule-uitstappie was dié katte die ontbrekende faktor. Ons het wel leeus en jagluiperds raakgeloop – die eerste keer in die Wildtuin ook leeus wat water drink. Drie leeus het ‘n keer of wat by die piekniekplek lê en bak. Ons kon twee gesigte tussen die gras uitmaak.
Oor die Balule-belewenis skryf ek later. Om weer groot troppe sebras en wildebeeste te sien, soos in die “ou dae”, asook renosters, hope buffels, olifante en kameelperde, was aangenaam. By die Engelhard-dam by Letaba het ons ‘n visarend ‘n vis uit die water sien pluk. Soveel aasvoëls soos langs die Letabarivier het ons nog nie op ‘n bondel gesien nie. Op ons lys voëls is ook gompoue, berghane, boskorhane en sekretarisvoëls.
In Sabiepark skyn die son vandag heerlik. Ek sit kortmou op die stoep. Tot dusver was dit egter hierdie winter ook maar ver van warm in hierdie geweste. As ons ‘n vleisie braai, sit ons styf teen die vuur!
Comments