top of page
  • Uitmelkbos

GROOTSTE BROOD


07-IMG_1944
08-IMG_1947
05-IMG_1937
04-IMG_1936

Die grootste brood wat ek nog gesien het? Ongetwyfeld op Sondag 18 April op die gesellige Piazza Bra – die grootste plein in Verona en die hart van die stad.

Van 16 tot 19 April is die jaarlikse Le Piazze Dei Sapori op die plein langs die historiese Arena di Verona gehou. Dit is wanneer elke streek in die land met sy tradisionele geregte en wyne na Verona opruk vir ‘n kosfees soos min.

Van 10:00 tot middernag word oor vier dae in oor die 100 kraampies spiere gebult met brode, kase, worse, salami’s en ‘n keur van Italiaanse wyne waaroor ‘n mens in smaak, voorkoms en volume net in die oortreffende trap verslag kan doen. Ses Italiaanse brouery bring ook hul beste bier.

Kyk daardie massiewe brode op die eerste twee foto’s. Dis die einste hulle waarvan ek hierbo praat. Kyk die kaas in die hand van ‘n buurman. Of die gestopte speenvark wat deur ‘n ander uitstaller gekerf word. Dis menere, hoor!

Ons het ook olywe raakgeloop so groot soos duifeiers – stapels daarvan neffens klein bergies rissies, ingemaak en gedroog.

Italianers ken van kos maak. Na hierdie jaarlikse fees word net die allerbeste kos-, wyn en biermakers genooi. Die prosies vir proe wat ‘n besoeker joviaal aangebied word, laat die hongerte soos ‘n digte mis op jou toesak.

Ons het per taxi opgedaag om die Arena te besigtig. Hierdie indrukwekkende Romeinse amfiteater in die Piazza Bra is dalk die stad se bekendste toeriste-attraksie (naas Juliet se balkon). Dit is maar net 2 000 jaar oud en word beskou as een van die bes behoue antieke strukture in sy soort. Die arena is internasionaal beroemd weens die fenomenale operaproduksies wat gereeld aangebied word.

Die hotelmeisie het gewaarsku dit kan maar dol gaan op ‘n Sondagmiddag op die boomryke Bra met al sy buitelug-restaurante, kafees en kuierplekke. Op so ‘n reuse-basaar was ons egter nie voorbereid nie. Die woeligheid het die indruk gewek dat die hele Verona gelyk ‘n ietsie te ete en te drinke kom soek het.


01-IMG_1872

1-IMG_1868

1-IMG_1949

02-IMG_1875

03-IMG_1934

06-IMG_1941


10-IMG_1953

Die omvattende spyskaart maak die keuse nie maklik nie. ‘n Stukkie soetgebak dalk? ‘n Pastei? ‘n Gevlegde broderigheid met kaas? Tokkie het vir ons van die broodjies gekoop. Gelukkig het ‘n parkbankie net oopgegaan met ‘n uitsig op die spuitfonteine, die standbeeld van koning Victor Emmanuel op sy perd en die reusepilare van die Palazza Barbieri, wat deesdae as stadhuis dien.

Smulpape kan gerus maar ‘n aantekening maak oor die stukkie Italiaanse kultuur wat jy in April in Verona raakloop. Saam met die fees op die plein word ook ‘n groot verskeidenheid musiekkonserte aangebied – van rock ‘n roll tot opera. En plaaslike restaurante sit fynproewer-spyskaarte voor wat deur die Piazze Dei Sapori geïnspireer is.

Kom na Verona in die lente en maak julle klaar vir ‘n fees. Dis goeie advies en dis gratis (die advies, bedoel ek).

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page