Middag uit Sabiepark
Miskien moet ek uitreik vir die tafelblad voordat ek hierdie woorde neerpen (“Touch wood, sê die Engelse), maar ons beleef aan die bobbejaanfront die rustigste jaar sedert ons kennismaking met Sabiepark in 1998.
Geen strooptog op die voorstoep of ander bose aktiwiteitwat wat die gemoedsrus versteur en omvangryke skoonmaak-operasies verg nie.
Ja, daardie ou nasie met hul sekelsterte het al by die watergat kom drink en enkelinge het dit al tot op die stoep gewaag. Maar in die algemeen behou hulle (tot dusver) vanjaar ‘n eerbiedige afstand.
Dank jou die duiwel vir die verandering in gesindheid en/of gedragspatroon by ‘n lotjie wat die Van Deventers al erg suur gehad het. Sal ek byvoorbeeld die daardie snikhete somersdag vergeet toe hulle in die swembadjie kom afkoel het?
Natuurlik moes ons die water daar en dan uittap en die skropborsels uithaal. Die stoepkussings was self maar ‘n yslike gemors. En die stoepteëls? Sies!
Daar was – nog erger – die dae dat hulle deur die amper ondeurdringbare Van Deventerskanse gebars het om binnenshuis ondersoeke ter plaatse te kom loods. Maar sal ek my bloeddruk nou onnodig aan strawwe eise onderwerp deur sulke onplesierige skandes en skades in herinnering te roep?
Die doel van hierdie skrywe is immers nie om ou koeie (of bobbejane) uit die sloot te grawe nie; bloot om ‘n welkome wending te rapporteer en oor ‘n moontlike oorsaak te bespiegel.
Die oorsaak is dalk aan ‘n verwisseling in leierskap toe te skryf. Die nuwe aanvoerder lyk bepaald minder boosaardig en uitdagend as sy (saliger?) voorganger. ‘n Tweede teorie is dat ‘n verandering in die Van Deventers se liggaamstaal/gesigstaal agter die nuwe respekte kan sit waarmee die inwoners van Wildevy 154 bejeën word.
Ons KYK hulle nou grootoog eerder as om op en af te spring en nare geluide voort te bring om hulle af te skrik.
Die grootoog-advies kom van ‘n vriend in Amerika, Ben Coetzee, wat jare her by Nasionale Parke was en nie heeltemal die Van Deventers se gebrek aan welwillendheid jeens die bobbejaanspesie deel nie. “So, jammer man, maar ek sukkel om my vreugde oor jou ongemanierde gaste te onderdruk,” het hy sy sienswyse op ‘n keer openhartig gestel.
Dit was nadat hy en sy seun, Dirk, in 2005 in die Krugerpark kom foto’s neem het vir sy eersteklas-boek, “Birth of an African Landscape”, en hulle oor ‘n hele paar dae en ‘n hele klompie kilometers slegs een bobbejaan gesien het.
Nêrens het hy gelees of gehoor van enige kommer oor die bobbejanegetalle nie, het Ben laat weet, en hy het al aanvaar hulle het uitgevrek onder Natuurbewaring se neuse. Toe bereik die uwe se klagtes hom daar in Memphis se wêreld waar hy en Jeanette hulle ingegrawe het (selfs Amerikaanse burgerskap verwerf het).
Ewenwel, simpatiek of nie so besonder simpatiek nie, had Ben toe nogal ongewone raad. Hy het die volgende speletjie aanbeveel wanneer bobbejane om die motor rondhang:
“Sonder om sterk en direk na enige individu te kyk, soek ‘n nie-dominante, ondergeskikte uit, kyk dan direk na haar en maak groot oë (net groot oe, nie ander bewegings nie). Sy sal skrik en indien sy bly sit, oral om jou kyk maar nooit weer na direk n jou nie, terwyl sy jou wel uit die hoek van die oog belangstellend dophou.
“Probeer dieselfde met ‘n meneer in die trop. Hy sal ietwat van stryk gebring word maar heel anders reageer, iets sinneloos doen, soos krap, opstaan, paar treë stap en weer sit, of wat ookal (displacement activity) nie gewoond om so geintimideer te word nie.
‘‘Pure mens.’
Ben het spesifiek gevra dat ek dit asseblief nie tuis op die werf probeer doen nie , maar na ‘n semi-geslaagde eksperiment met die “ vuil-kyk-formule” op pad na Skukuza was die Van D’s toe tog hier by Tarlehoet ‘n bietjie stout.
As die resultaat daarvan was die ongekende bobbejaan-skietstilstand wat ons nou belewe, vra ek nie eens askies vir ons ongehoorsaamheid nie!
Commentaires