top of page
  • Uitmelkbos

GROEN PIESANGS


In Sabiepark: Rina, Tokkie, olifant, Herman, Wena en Pieter.

Veertig jaar gelede het ons vriende Herman en Rina le Roux van Bloemfontein ‘n Volksbladtoer na Europa gelei. In die toergroep was Wena de Kock, hoofmeisie in my matriekjaar aan Volkies op Potchefstroom, en haar man, Pieter, ook destyds van Bloemfontein.

Die Le Roux’s en die De Kocks het, soos hulle sê, dadelik ge-“kliek”. Hulle is sedertdien boesemvriende en het op dosyne toere, vakansies, naweke en ander uitstappies saam ‘n skatkis goue herinneringe versamel. In die winter van 2011 was hulle saam in die Laeveld net oorkant Sabiepark in ‘n Burchell- huisie by die Protea-hotel Krugerhek. Ons kon lekker oor en weer kuier (soos op die foto).

Miskien een van die mooiste stories van die Le Roux-De Kock-kamerade is vir my toe hulle ‘n keer in Londen aankom en in opgebreekte pare (Herman/Wena en Pieter/Rina) op twee verskillende moltreine beland. Die een onpaar had die dokumente; die ander die bagasie. Dit was die dae voor selfone. In blinde paniek skarrel hulle heen en weer tussen die stasies, hul moltreine swoesj-swoesj in die tonnels bymekaar verby. Todat Herman later die blink plan kry: “Wena, nou wag ek en jy net hier totdat Pieter en Rina opdaag.” Hulle het – net heelwat later.

Hoeveel vakansies hulle saam agter die blad het, sal Herman, die statistikus, seker dadelik weet as jy hom sou vra. Ek het hom nie gevra nie. Hy sou bepaald ook die syfer uit sy stapels plakboeke kon gaan herwin. Dis egter nie my punt nie.

Ek wil eintlik vertel dat die vier veertig jaar van hegte vriendskap op die een of ander manier feestelik wou vier. Herman beklink toe ‘n sogenaamde “mid-week” by Sun City. Die De Kocks wat pas ná ‘n lang kuier by hul kinders Doer Onder terug in die land is, sou eers saam Sun City toe voordat hulle terugkeer na hul woonstel hoog op in ‘n toringblok op die Strand se Melkbaai.

Twaalf dae voor die einde van die Australiese besoek begin Pieter kla van ‘n pyn op die bors. Op die laaste skof vliegtuig toe op Sydney se lughawe moet hy telkens gaan stilstaan om asem te skep. Op die vliegtuig is dit ‘n gesukkel om steunend en kreunend in sy stoel orent te beur as hy ‘n draai wil loop.

Pieter is bra sku vir dokters en dinge. Tog laat hy hom op die lang vlug deur Wena oortuig. Van die lughawe O.R. Tambo is hulle ongevalle toe. ‘n EKG dui op ‘n hartaanval. Die dokter skud sy kop in ongeloof dat Pieter nog op sy bene is. ‘n Rolstoel word laat kom. Hy moet dadelik na die Zuid-Afrikaanse Hospitaal toe in Pretoria. Daar kry hy vanmiddag ‘n hartomleiding.

Daardie veertig-jaar-reünie lyk in die weegskaal – maar, aan die ander kant, Pieter is ‘n taai kêrel wat hom nie maklik laat onderkry nie.

Waaraan die storie my herinner, is aan ‘n sêding van Tokkie se wyle Tant Sina oor die koop van groen piesangs. Jy bereik ‘n stadium in jou lewe wanneer dit dalk nie raadsaam is om jou geld in ‘n onryp tros piesangs te belê nie, het sy geglo.

Op Melkbos is ons op die oomblik aan’t reële aan ‘n bootvaart op die MSC Opera in Februarie 2013 na Walvisbaai en Luderitz. Ons is al iets soos 30 in die groep – van ‘n 60-jarige tot ‘n 81-jarige; die meeste 70-plussers met ‘n verskeidenheid mankemente.

Sal nogal merkwaardig wees, merk ek vanoggend oor die laaste koppie koffie in die knusse kooi teenoor Tokkie op, as al ons oues op 21 Februarie heelhuids, fiks en in goeie gesondheid op die Opera aan boord sou kan stap. Sal wonderlik wees as ons dan nog almal ons groen piesangs se skille kan afstroop wat ons nou met soveel verwagting en opgewondenheid aanskaf.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page