top of page
  • Uitmelkbos

Grendelgedagtes

’n Vinnige mea culpa. Covid-19 mors met die oemf van die lewe. Crito se aandag is afleibaar, en die kritiese oog vir resensies lees het soetskeel getrek. Afsondering op ’n kleinhoewe ver van boekwinkels (indien oop, bygesê) help ook net niks. Intussen, aan my vriende, as julle wil kom kuier, moenie eens die hek by die grootpad oopmaak as julle nie maskers aanhet nie. Dis soos dit is.

Erfgeld is swerfgeld: Reis na binne, die -ste -ste plek, deur C. Johan Bakkes. Resensie: Sophia van Taak. (Rapport-Boeke) Dis nie neerhalend om te sê Sophia van Taak bekyk Bakkes se boek met Weg!-oë nie. Haar resensie is so heerlik vry van die gebruiklike literêre gesnuffel wat mens by meeste boekresensies raakloop. ’n Plesier om te lees, ’n boodskap wat tref. Al wat oorbly, is om hardop te wonder watter joernalis gaan die nuuswenk in die inleidende sin opvolg: “Aan sy praat kom ’n mens agter hierdie boek is waarskynlik Johan Bakkes se laaste”. Wat is die storie?

As die Cape Flats kon praat: Green Eyes en ander stories, deur Brian Fredericks. Resensie: Frederick J. Botha. (Rapport-Boeke) Skielik, so tussen die formele aanloop en die uiteindelike groen lig, is daar iets wat mens sommer baie stip laat lees. ’n Kortverhaal van meer as sewentig bladsye. Dit kan mos geen gewone skrywer wees hierdie nie. Dis iemand wat hom nie steur aan konvensies nie. En sodra jy weet waaroor daardie lang kortverhaal gaan, weet jy ook dat dit ’n skrywer is wat op soek is na die mense wat weggesteek is in die harde feite van koerantberigte. Dis ’n nuuskierige skrywer. Daarna lys die resensent die ander verhale, som hul tematiek op, maar die oorwinning is reeds behaal. Ek het dit reeds bestel.

Sondesemoer! deur Wilhelm Jordaan. Resensie: Joan Hambidge. (Boeke24) Die grendeltyd doen Joan Hambidge goed, dis duidelik. Weg is die paragrawe wat los van mekaar staan, weg die aforistiese aanpak. Sy het ’n baie lekker skryfstyl, en pak haar bespreking vol met die soort inligting wat net iemand met baie leeservaring en ’n gesonde geheue sal hê. Die argument vloei moeiteloos en die lof sink in. Al wat my laat vassteek het, is haar opmerking dat sy ook verantwoordelik is vir die aanbeveling op die skutblad. Wat beteken sy het die boek voor publikasie te lese gekry, gewilliglik haar naam en gesag gekoppel aan ’n aanbeveling – en nou skryf sy ook ’n gloeiende resensie daaroor. ’n Bietjie té té, sou ek sê.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comentarios


bottom of page