top of page
  • Uitmelkbos

GOUE OUES VAN 50’S

So naïef is ek nie dat ek nie die risiko’s besef van lysies maak nie. Jy stel jou eenvoudig op as teiken vir ander wat met goeie of minder goeie bedoelinge hul skietysters op jou wil korrel.

Ná nou anderdag se stuk oor die goue oues van die 50’s was daar reaksies, privaat en in die openbaar, wat my tog laat jeuk het om ‘n lysie te probeer maak.

Wat is werklik my, sê maar, top-20 populere liedjies van daardie era? Dalk tas ek verskriklik mis, want sekere liedjies wat toe treffers was, het vinnig hul glans verloor; ander wat in die bondel verdwyn het, is vandag nog immergroen. Nat King Cole se pragtige ‘When I Fall In Love’ was destyds byvoorbeeld nêrens; Pat Boone se “I almost lost my mind’ was op elke “hit parade”. Vandag is hul gewildheid net mooi omgekeerd.

Uiteindelik het ek probeer om ‘n ewewig na te streef tussen liedjies van die 50’s wat doerie tyd in my bloed was, en dié wat my ná al die jare steeds – of éérs – bekoor. Onder laasgenoemde tel drie orkeswerke, die bekroonde temamusiek uit die rolprente ‘The Third Man’, ‘Limelight’ en die obskure prentjie ‘Unchained’. Al drie is vandag veel hoër in my estimasie as in die 50’s.

Elvis Presley het my hoofbrekens besorg. Daardie musiek-fenomeen het in die 50’s begin blom. Baie van die eerste Presley-treffers val ietwat rof op die ouer oor. My oplossing was om een Presley-ballade, ‘Love Me Tender’ in te sluit, en een van sy beste meer tipiese liedjie, ‘Don’t be cruel’.

Elvis se ‘It’s Now Or Never’ (‘n verwerking van die Italiaanse lied ‘O Sole Mio’) sou bepaald hoog op my lys gewees het. Dit is egter ‘n 1960-model.

Van Perry Como was sy ‘Catch A Falling Star’ en ‘Magic Moments’ in die 50’s sy nommer-eens. Ek het ‘More” gekies, omdat ek daarmee ‘n romantiese assosiasie het. Ook Debbie Reynolds se ‘Tammy’ haal my lys weens ‘n jong liefde wat ek met die fliek en die liefjie in verband bring. Gun my dié plesiertjie, asseblief!

Nat King Cole se ‘Unforgettable’ en ‘Mona Lisa’ was amper-ampers, maar ‘When I Fall In Love’ is darem in ‘n klas van sy eie. The Platters het my ook laat kopkrap. My keuse is ‘Smoke Gets In Your Eyes’. ‘Great Pretender’ en ‘Twilight Time’ was egter ook sterk aanspraakmakers.

Van Patti Page wou-wou ek die vrolike ‘Mockin Bird Hill’ insluit. Maar dit sou beteken ek moet by haar ‘Tennesee Waltz’ verbygaan, want net vir die grote Elvis en Bing het ek twee plate elk op my lysie gegun.

Van Harry Belafonte het ‘Banana Boat Song’ net sy neus voor gekry voor ‘Island in the Sun’ en ‘Mary’s Boy Child’; en van Dean Martin ‘That’s Amore’ net voor ‘Memories Are Made Of This’.

Van Bing Crosby vat ek ‘White Christmas’, al is dit nie ‘n persoonlike sterk gunsteling nie en, na my oordeel, taamlik onvanpas in ‘n land soos Suid-Afrika met sy somerkersfees. Is enige lied van die 50’s egter ná sestig jaar wêreldwyd nog só geliefd? Ek twyfel.

Maar ek vat darem ook ‘True Love’ (Bing en die beeldskone Grace Kelly) – ‘n liefdesliedjie wat die hartsnare roer.

Hier’s my twintig, in alfabetiese volgorde (die uitweg van die lafaard!)¨

‘Banana Boat Song’ (Harry Belafonte)

‘Don’t be cruel’ ( Elvis Presley)

‘Harry Lime’s Theme’ uit The Third Man (Anton Karas)

‘High Noon’ – ‘Do Not Forsake Me’ (Tex Ritter)

‘I Believe’ (Frankie Laine)

Love Letters In The Sand’ (Pat Boone)

‘Love Me Tender’ (Elvis Presley)

‘More’ (Perry Como)

‘Oh Mein Papa’ (Eddie Calvert)

‘Que Sera Sera – ‘Whatever Will Be, Will Be’ (Doris Day)

‘Smoke Gets In Your Eyes’ (The Platters)

‘Terry’s Theme’ uit Limelight (Guy Lombardo)

‘Tammy’ (Debby Reynolds)

‘That’s Amore’ (Dean Martin)

‘Tennessee Waltz’ (Patti Page)

’The Three Bells’ (The Browns)

‘Tom Dooley’ (Kingston Trio)

‘True Love’ – Bing Crosby en Grace Kelly)

‘Unchained Melody – Eternally’ uit Unchained (Les Baxter)

‘White Chistmas’ (Bing Crosby)

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page