top of page
  • Uitmelkbos

GOUE ERA VAN SWAARGEWIGTE


Almal wat leef en beef was vir die geveg op Loftus

Kombineer Kallie Knoetze se yster met Gerrie Coetzee se boksvernuf –  dan het jy ‘n wêreldkampioen gehad. In 1978, 55 jaar gelede, het ek met die twee swaargewigte lang geselse gesels vir die dagblad Beeld se rubriek “Onder Vier Oë”.  Die verskil in durf en dryfkrag het jou soos ‘n kragtige regter teen die kinnebak getref.

Kirby van der Merwe roep in “By” van 21 September (‘Seer handjies’ slaan steeds ‘n slag) Gerrie se verowering van die swaargewigtitel van die wêreld op 23 September 1983 in Akron, Ohio, in herinnering.  Gerrie het Michael Dokes in die tiende harpuis laat ruik.  Dit was vyf jaar ná ons “Onder Vier Oë”. In my gedagtes het daardie onderhoud van 7 April 1978 egter bly spook.  Gerrie Coetzee, wêreldkampioen – en vyf jaar tevore wou hy dit nie juis wees nie.

Saans voor hy gaan slaap pak ‘n tweestryd hom, het Gerrie verklap.  Dan  lê hy en dink: “Ou Gerrie, sal jy dit regtig ‘laaik’ om kampioen te wees?” Amper bedees en sag soos ‘n malvalekker, het die groot hoeweboer met die hanslam, ‘n paar hoenders en die vinnige Granada Ghia oorkant my geklink. Self onseker of hy “honger” genoeg is en of die broodnodige “killer’s instinct” nie dalk tog ontbreek nie in sy boksmondering wat soveel ander pluspunte het.    

So anders as Kallie twee maande tevore, op 10 Februarie, vir dieselfde rubriek.  Die Kallie oorkant my was uit en uit “Die Bek”, soos hy in die kryt bekend was, ook as hy met ‘n koerantman gesels.  Dalk nie so ‘n afgeronde bokser nie. Maar baie meer hardekwas en tot barstens toe vol selfvertroue. ‘n Man met ‘n wil. Sy groot ambisie is die wêreldtitel, het hy met gloeiende oë beklemtoon –  twee, drie keer. Soos ‘n ongeduldige tier.

Wel, die geskiedenis vertel ons: die jintelman-reus met die giftige regter en geleerde linker het bo uitgekom; die tier met die swiepende vuiste was, in perdewedren-idioom, ‘n “also ran”.   Op grond van my twee gesprekke was in my gemoed min twyfel: As “ou Gerrie Seer-handjies” meer “Boomstraat-bek” en Kallie-tier in hom gehad het, het, het hy  daardie gesogte goue gordel veel langer om sy middel geknoop.

Hoe ook al, Suid-Afrikaners is aan albei dank verskuldig vir ‘n goue era van swaargewigboks. 

(Oor die kwade bloed tussen hulle, het die twee destyds openhartig gesels.  Volgens Gerrie was hul verhouding ‘n “bodemlose put”. Kallie het sy bek so vol, maar as hy vir hom (Gerrie) raakloop, “skrik hy altyd sy wind uit”.  “Gerrie, wie’s Gerrie?”  wou Kallie op sy beurt weet. “Hy is uit die wedloop; maar net die SA kampioentjie. Ek is die man wat die skares trek.” )

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page