See van buffels by die Orpendam.
Die Goue Driehoek in wildtuin-terme is vir my onteenseglik die driehoek Skukuza, Tshokwane, Onder-Sabie, Skukuza. Beveel dese en gene altyd daarheen aan vir ‘n vinnige, vrugbare besoekie. Ses uur van wildtuinplesier wag. Op grond van ‘n resente ervaring wil ek ‘n blindedermpie byvoeg. Dis die Orpendam-omrit
Ek en Tokkie het saam met ons dogter Marisa Claassens, Jacob en Thomas (11) en Christopher (6) die Goue Driehoek verken. Eerste been: Skukuza – Tshokwane. Ek kry toe die ingewing om nie by Tshokwane die gewone H10 te vat nie, maar eerder so drie kilometer verder op die H1-3 te ry en die natuurskone omrit aan te durf.
Op daardie drie kilometer anderkant Tshokwane kry ons toe ons eerste leeus van die dag (later naby Skukuza nog gekry). Op die omrit, by die afdraai na die dam self, ry ons ‘n see van buffels binne – dalk die grootste trop wat ek nog gesien het. Honderde, honderde, grotes en kleintjies. Maar taamlik verspreid.
Olifante was deurgaans volop en renosters glad nie skaars nie. Vir nommer vyf, die luiperd, moes ons egter werk. En Job se geduld aan die dag lê.
Net verby die Sunsetdam was ‘n verkeersknoop aan’t opbou soos slegs op die “wildtuin se N1” moontlik is. Ons was gelukkig strategies geplaas. As die ouens voor ons net wou aanskuif. AS …….. Dit word weer by ons ingevryf dat party ongepoetste jafels hul maniere by die venster uitsmyt wanneer hulle iets spesiaal sien.
In die Land Cruiser voor ons was twee egpare. Die mans had die allemintigste lense. Daarmee het hulle seker ‘n duisend foto’s gekiek. Eenvoudig net verseg om te roer om iemand anders ook ‘n kans te gee.
Ten einde laaste het ons darem die luiperd in ‘n oop kolletjie gesien. Ons het nie oorgeloop van vriendelikheid jeens die hardekwas manne in die Land Cruiser nie. Hul verweer was verbasend. Hulle neem foto’s vir National Geographic!
‘n Swerm aasvoëls in die bome het verraai dat daar ‘n vangs was. Die luiperd was mank en het uiters ongemaklik beweeg – iets waaraan ons op ‘n vreemde wyse herinner is. Kort daarna het ons gehoor van die luiperd-aanval op die gids in ‘n safarivoertuig op dieselfde roete dieselfde dag. Maar ons s’n kon dit darem nie gewees het nie. Die insident was ‘n hele paar kilometer nadir aan Skukuza.
Die Sunsetdam was, soos dikwels, ‘n fees met ‘n groot drukte van waterdiere en –voëls. As bonus ook ‘n kameelperd wat knieë knak om op die hitte van die dag gulsig te drink, omring deur rooibokkies en nimmersatte.
Berghaan se brekfis.
Twee voëlwaarnemings het ‘n tweede nare waarheid van die hedendaagse wildtuin opnuut tuisgebring. Dit is hoe roekeloos spoedvrate op die hoofpaaie heen en weer jaag. Die eerste was ‘n berghaan wat die laaste stukkies vlees van ‘n bondeltjie vaal vere afskeur. Duidelik die slagoffer van ‘n jaagduiwel. Die tweede was werklik hartverskeurend: ‘n Patrysie wat hartseer rondom sy sterwende maatjie ronddans en paniekerig probeer om die feitlik lewelose liggaampie van die teer af weg te kry.
Terwyl ons op die toneel was, is die enetjie wat raakgery is, dood. Die oorlewende was verpletterd. Die toneel het my so geruk dat my kamera ongebruik langs my bly lê het. Eers later het dit tot my deurgedring die roerende toneeltjie kon aangrypende foto’s opgelewer het. En ek noem myself ‘n koerantman!
Yorumlar