top of page
  • Uitmelkbos

GORDYN SKUIF OOP


Cobus en sy vrou, Sandra Kotze, in “Mattewis en Meraai” in 1979

Koerantmense se helderste herinneringe wentel dikwels om die politiek en politieke figure. As dit die vaste spyse van jou onthou is, is sport en die uitvoerende kunste die poeding.

Die herinneringe van die kordate “klein mannetjie” van die verhoog, Cobus Rossouw, regisseur van die rolprent “Getroud met rugby”, was vir hierdie soettand soos die koekstruif wat Tokkie, my vrou, vir spesiale okkasies maak.

Verleidelik ryk en lekker!

In Die Burger van ‘n week of wat gelede het Rossouw vir Murray la Vita boeiend van sy luisterryke loopbaan vertel.

Met die lees was ek skielik terug in die jare 80, ge-aandpak en ge-strikdas in die losie van die imposante Sand du Plessiteater waar ek bevoorreg was om soos wafferse wie-weet-wat elke Sukovs-opvoering of -uitvoering by te woon.

As redakteur van Die Volksblad het ek komplimentêre kaartjies vir die “Sand” ontvang. Die beste Suid-Afrikaanse kunstenaars in die wonderlikste operas, blyspele, toneelopvoerings en wat nog is dus in gloriedae vir die kunste as ‘t ware op ‘n skinkbord gratis en verniet aan my gebied. Ek moes maar net opdaag – ‘n vyfster-vooreg wat ek destyds nie na waarde geskat het nie.

Rossouw se verhoogloopbaan, soos hy dit aan La Vita geskets het, het vir my ‘n boek laat oopval. Flitse van elke skitter-rol waarin ek daardie intense, passievolle, amper verbete, akteur leer ken het, het weer helder voor die gees verbygerol. By uitstek koning Lear. Rossouw se koning Lear was manjifiek.

In daardie veeleisende rol het die statuur die “kort mannetjie”, soos iemand dit eendag iewers gestel het, letterlik voor die gehoor se oë gegroei. Die impak was onvergeetlik.

Maar by koning Lear hou Rossouw se impak nie op nie. Verreweg nie. Op die verhoog van die “Sand” was hy sonder twyfel die Speler van die Dekade. Van die Afrikaanse toneel (en rolprentwese) was hy een van die grotes in sy era. Punt.

Rossouw se terugblik het nie net kosbare herinneringe aan daardie jare ontsluit nie. Hy het die gordyn verder teruggeskuif tot veterane met wie hy in sy jong dae saam op die verhoog was, toneel-legendes soos André Huguenet, Wena Naudé, Patrick Mynhardt, Mathilde Hanekom e.a. wat vir die huidige generasie waarskynlik vreemdelinge is.

Oor een van hulle, die vermaarde Huguenet (gebore Gerhardus Borstlap), wil ek graag ‘n staaltjie deel wat in my 1996-boekie “Flaters en Kraters” opgeteken is. Dit is “geleen” by my oud-kollega Piet Muller wat in sy rubriek “Flitslig” in “Rapport” vertel het hoe Huguenet die land weke lank vermaak het met die sage van sy aanrandingsaak, spruitende uit ‘n ligte verskilletjie oor die betaal van vermaaklikheidsbelasting op ‘n dorp in die Swartland.

Muller vertel: “ … die verskyning in ‘n plattelandse hof was een van die groot oomblikke van sy loopbaan – ‘n vertoning wat kon vergelyk met sy Hamlet of selfs sy Hassan, waarvoor hy internasionale erkenning gekry het.

“Nee, hy het nooit iemand geklap nie, en veral geen amptenaar nie. Edelagbare moet darem onthou hy is ‘n toneelspeler en weens sy beroep is hy soms in die gewoonte om sulke wye Griekse gebare te maak …”

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page