Dit is my geleerde vriend, Awie Badenhorst, hierdie. Dis Awie wat daardie mooi foto’s geneem het by Rust en Vrede, sien hieronder. (Ek het dié een geneem.)
En dis juis tydens die pouse, daar by Rust en Vrede, dat een van die kunstenaars so na Awie se kamera kyk en sê: “Jy’t seker ’n goeie kamera, né?”
Waarop Awie toe antwoord: “Gaan jy vir daardie ou, wat nou net voorgelees het, vra of hy ’n goeie tikmasjien het?”
Dit laat my dink aan André le Roux se skets: “Voete, vir fotograwe, was nog nooit belangrik nie.” Ken julle die boek? Die titel is: Kom ons sit sommer by die tafel. Dis ’n wonderlike boek.
André is natuurlik reg. ’n Goeie fotograaf weet waar om te sny. En voete is nie so belangrik nie. Soms is hulle selfs ’n probleem. Die skone Anneline Kriel se voete was nie afneemkwaliteit nie.
As jy, as fotograaf, dus skielik op die voete fokus, dan wéét die kyker voete is belangrik.
Opperman het gepraat van die poësie as ’n flits wat ’n kolletjie lig laat val in die donker, en net daardie deeltjie wat belig word, is belangrik op daardie oomblik.
So maak ’n goeie verhaal ook. Of wat dink julle?
Comments