Arendsnes, deur Dirk Jordaan. Resensent: Nico Geldenhuys (Boeke24)
Eersteklas, dié resensie! Die roman wentel om ‘n etiese vraagstuk en die resensent sê jou dadelik wat dit is en hoe dit uitkring in die verhaal in. Hy beskryf die verhaal in breë trekke, en plaas die roman in die groter konteks van Afrikaanse skrywers. En hy het goeie maniere ook. Hy sê vir ons die twee hoofkarakters is nie slim genoeg om die etiese dilemma waaroor dit gaan, in woorde om te sit nie – met die implikasie, uiteraard, dat die skrywer wel is en die leser nog meer. Hou daarvan! Skryfstyl goed, al rafel die laaste paragrawe uit om te lyk asof dit nagedagtes was.
Arendsnes, deur Dirk Jordaan. Resensent: Riaan Grobler (Boeke24)
Seker maar orraait, hierdie ene. Ek meen, mens volg wat hy sê en alles en dit is baie sinvol. ‘n Nuwe invalshoek in ‘n resepmatige genre, nè. Nou hoekom sal ‘n taalpraktisyn hom dan van ‘n sin soos die volgende bedien: “Dit wil voorkom asof die slagoffers tereggestel is en sy probeer agter die kap van die byl kom.” Ander clichématige woordkeuses (“skarminkel”, “skobbejakke”, “sluwe”) kan hom seker verskoon word, dit roer die gedagtes. Dan tob mens ‘n bietjie oor die nuwe invalshoek, jy onthou van Chris Karsten se vroulike speurder, jy wonder hoekom Grobler dink Konsalik is in die tagtigs gelees en nie in die sestigs en sewentigs toe sy boeke in die winkels was nie … Alles té amper, maar die resensie is seker orraait.
Anderkant duskant, deur Pienkes du Plessis. Resensent: Erika de Beer (Boeke24)
Mens moet eintlik vir Erika de Beer dankie sê. Dis nie maklik om goeie negatiewe resensies te skryf nie, en sy doen dit wel. Sonder opsmuk, sonder neerbuiging, sonder fiemies. Selfs die skrywer van die boek sal ‘n resensie soos hierdie kan waardeer.
Skaduwee, deur Carel van der Merwe. Resensent: Melt Myburgh (Boeke24)
Wanneer ‘n digter ‘n resensie skryf, verklap die “uitpak” van paragrawe dikwels sy woordnering. Myburgh se resensie is bedrieglik eenvoudig. Hy neem alles in ag waarna ‘n mens by ‘n ‘n roman soos hierdie behoort te kyk, en evalueer elke moontlike aspek. Hoofsaaklik positief. Dan kom: “Literêre snobs sal egter gepla word deur geykte uitdrukkings soos trane wat ‘biggel’ en foute soos ‘stadium’ pleks van ‘stadion’. ” Selfs twee baie positiewe slotsinne daarna kan nie die indruk uitwis dat die resensent die grondseil opgelig het sodat ons die dooie gras daaronder kon sien nie. Baie knap. En vir die skrywer is dit ook konstruktief. Slyp die woorde …
Comments