Dit staan in Filippense dis goed vir die mense; wie wil dan water hê, wie wil dan, wie wil dan, wie wil dan hê, wie wil dan water hê…
Party so vals soos leê verfblikke, maar nietemin met groot oorgawe en entoesiasme het ons in my Tukkiedae hierdie liedjie gesing. Soms het ons ingehaak en op maat van die wysie heen en weer gewieg.
Daar was ook ‘n tweede versie:
Dit staan in Maleagi dis goed vir die magie … en wat daarop volg.
Ons het geen twyfel gehad waaroor ons sing nie. Daardie produk wat volgens Flippense goed was vir die mense en volgens Maleagi goed was vir die magie, was nie die gewraakte “Miracle magnesium” wat Body Detox met allerlei ambisieuse aansprake links en regs adverteer nie vir kwale so uiteenlopend soos skilfers, ingroeitoonnaels en kolonkanker.
(Marcelle du Plessis verdedig die praktyk in vanoggend se Burger o.m. met die volgende woorde: “Daar staan ‘mag’ (help) wat beteken ‘miskien’ of ‘dalk'”. Jammer, meisie, raadpleeg ‘n woordeboek – dis nie wat ‘mag’ beteken nie, maar ons laat dit maar daar.)
Waarop ek entlik afstuur, is om die klaarblyklike te beklemtoon: Dat ons Tukkies van die 50’s en 60’s bepaald die produkte van SAB, die KWV, Distell en die Stellenbosch-Boerewynmakery in gedagte gehad het as ons daardie loflied aanhef.
Nou wonder ek of daarin nie ‘n formule geleë is wat die huidige stryd oor drankadvertensies kan, soos hulle sê, ontlont nie. Adverteer die drinkgoedjies eenvoudig sonder om dit by die naam te noem: so subtiel (?) dat diegene wat weet, sal weet en diegene wat nie weet nie, in salige onkunde sal bly verkeer.
Niks hoef te verander nie, buiten dalk die naam van die borg op die truie of hempies van die Springbokke, die Proteas en Bafana-Bafana. Maar dalk maak die Sinode dan beswaar as die arme profeet Maleagi met verloorders soos die Proteas ge-assosieer word.
Comments