top of page
Uitmelkbos

GLIMLAG NET DÊM SÊD, ASSEBLIEF


‘n Snaakse rolprent met vele uiters snaakse toneeltjies was The Fast Lady, ‘n Britse komedie van 1962, met gewilde Carry On-sterre soos Stanley Baxter, Leslie Phillips en James Robertson Justice. Ene Julie Christie het daarin haar debuut gemaak – en wat ‘n loopbaan!

Die Fast Lady is egter nie me Christie nie – dis ‘n swierige Bentleymotor. Ek wou in die gangetjie rol van die lag vir ‘n toneel waarin twee ambulansmanne ‘n pasiënt, toegewikkel in verbande, op ‘n draagbaar oor die straat dra. Dan kom die Bentley oop en toe aan met ‘n onbeholpe Stanley Baxter agter die stuur.

Die manne in uniform sit die draagbaar neer en laat spaander. Die pasiënt beur pynlik stadig orent en begin uit die pad van die aanstormende kar hinkepink – net-net betyds. Heerlike fliekmoment.

Ambulans-sake is natuurlik nie juis lag-sake nie. My vriend Pierre le Roux het op Tukkies van ‘n lykwa gepraat as ‘n “beentuintaxi. ‘n Ambulans was dan ‘n “aspirant-beentuintaxi”. Die konnotasie laat ‘n mens kriewel. Die wie-wie-wie van die ambulans-sirene is nie ‘n gunsteling-geluid nie.

Vir ‘n verwante insident in ons voortuin in Genl. Van Schoorstraat, Bloemfontein, in die 80’s kon ‘n mens ‘n glimlag darem kwalik onderdruk. Huishulp Miriam het gekrul van ‘n raaiselagtige buikpyn. Die ambulans het gekom. Op pad van die hoë stoeptrappies na die hekkie struikel die draers. Miriam val kadoems! van die draagbaar. Een oomblik was almal bedremmeld. Toe staan sy op, skud die grassies van haar af, klim terug en gaan lê weer plat op haar rug. (Die buikpyn was gelukkig nie ernstig nie – anders was daardie glimlag om die mondhoeke natuurlik terstond doodgevee.)

Nie lank gelede nie verras twee “para-medics” ‘n groepie van ons op ‘n ander manier. ‘n Vriendin val met die opstaanslag by ‘n Bloubergse restaurant soos ‘n liniaal agteroor. Die kopklap op die teëls weerklink. Almal kloek om die bewustelose dame. Toe sy bykom, wil sy orent beur. Besorgde hande druk haar egter plat. Sy moet stil lê soos ons op die rugbyveld sulke beserings gehanteer sien. Eers ‘n nekstut, dan beweeg. Die kelners klim met hul boordensvol borde heen en weer bo oor die gevalle vriendin.

Uiteindelik daag die ambulans op. Twee manne met draagbaar en al die ander moontlike nodige toerusting. Een vinnige kyk na die bloed aan haar kop, toe is die plastiekhandskoene aan. Volgende dan die nekstut? Moenie glo nie. Hulle sleep ‘n stoel nader, kry haar onder die arms beet en lig haar op die sitplek. Almal ys, maar gelukkig was die nek nie beseer nie.

Waaroor jy jou dalk net ‘n dêm sêd glimlaggie durf veroorloof, is die vreemde ervaring van ‘n Melkbosse vriend Vrydag. Sy rug gee by die huis in. Ambulans kom, maar met die draagbaar vorder hulle nie na wense van vlak tot vlak en om die skerp hoeke nie. Een kry ‘n ingewing. Uit kom die lyksak. My vriend word sonder seremonie daarin toegerits en op een van sy gade se deftige Persiese matte voordeur toe gesleep – sonder verdere komplikasies!

Wie, wie, wie – tog net nie ekke nie, asseblief!

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page