
Sabiepark se hienas raak nou glanspersoonlikhede, of ‘celebrities’, in die moderne idioom.
Die foto’s hierbo kom uit November se Weg. Die luiperdmannetjie het ‘n vlakvarkie in Maroelalaan vasgetrek en in ‘n jakkalsbessieboom opgehys. Die hiena regs het geduldig (!) op ‘n los gelukkie gewag.
Toe val ‘n sappige boudjie tussen die tak en die mond op die grond. Middagete op ‘n skinkbord vir die honger aasdier.
Op 28 September was ‘n ander Sabieparkse hiena in Die Burger – ene wat ek by my braaier afgeneem het toe hy kom snuffel het met die houding van: “Wat eet ons vanaand?”
Laasgenoemde het vir die fotograaf R1 000 se kruideniersware verdien as een van drie wenners in ‘n kompetisie vir braaifoto’s.
Spyt my waternat om te rapporteer dat eersgenoemde Weg se R1 000-prys misgeloop het. ‘n Witrenoster wat ‘n motor bydam om haar kalfie te beskerm, was die pryswenner.
Comments