
‘n Luiperd in ‘n jakkalsbessieboom in Sabiepark – sekerlik een van die gevaarlikstes … en vreesaanjaendes.
En die luiperd dan? Sou jy hom nie in die Top Tien moet plek gee nie?
Dit is die vraag wat by my ontstaan het n.a.v. een van daardie lysies wat gereeld op die e-pos-kringloop opduik: hierdie keer ‘n lys oor die tien “vreesaanjaendste roofdiere op aarde”.
Op die internetlys verskyn: die bobbejaanspinnekop, die mamba, die pirhana, die wolf, die komodo, die grizzliebeer, die Nylkrokodil, die orcawalvis, die haai en die leeu. G’n luiperd.
Vir wie sou ek kon vra? In my vriendekring kom onmiddellik een naam na vore: Piet Henning, studentemaat op Tukkies, boorling van die Waterberg en boer van Chiredzi, nou in ‘n regstryd gewikkel om die eienaarskap van SY grond.
Piet se antwoord, plaas ek graag hier volledig – verstommend vir my op grond van die man se kennis, insigte en spesiale slag met formulering, veral vir iemand wat primêr in Engels kommunikeer.
Piet reageer soos volg:
Interessante lys. Soos jy vra, en wat van die luiperd?
“Ten most feared predators…” Dalk moet ‘n mens liewer ‘n onderskeid tussen “vreesaanjaendste” en “gevaarlikste” tref.
Die bobbejaanspinnekop is allermins gevaarlik, behalwe in Suid-Amerika waar glo ‘n redelike giftige spesie is. Ons s’n maak eerder bang as wat hy enige gevaar inhou. In SA is mos vier nare spinnekoppe, nl. die sak-, knopie- , viool-, -en sandspinnekop (dodelik). Australië het ‘n taamlike wye keuse in hierdie verband, met die tregterweb (funnelweb) van Sydney vooraan die lys; een hap en jy moet baie vinnig by die hospitaal kom.
Die mamba … Wat meer kan ‘n man sê van “bangmaak”? Australië het egter tien slange wat giftiger is as die swartmamba, party wat met aldrie giwwe bewapen is om via jou senuwees, bloed of verrotting van die weefsel (soos in pofadder) jou lewe te verkort.
Almal weet nou al die piranha se vermoë is oordryf.
Die wolf is die duiwel van ons Westerse kleuterverhale en legendes, ‘n aansien wat hy nie maklik kan verloor nie. Hoeveel mense eet hy egter jaarliks op teenoor ‘n krokodil byvoorbeeld?
Die komodo vul my met walging, ‘n kêrel wat ek sou vermy, want byt hy jou aan die been en jy ontkom, dan val die vrot ledemaat buitendien na ‘n week af weens die bakterië in die ding se bek.
Die Nylkrokodil (en wat van die soutie van Oz, Inonesië ens?), is meedoënloos en laat my my doodgril. Herinner my in my verbeelding aan die Russiese OGPU of NKVD van ouds. Krok, die haai en skerpioen. Wil hulle nie sien nie, altans nie van naby nie.
Ek hou ook nie van die reusagtige grizzlie nie. Hy bly vir my ‘n tamaaie slobberjak, erger as tien rottweilers en mastiffs saam, venynig en onvoorspelbaar, vlugvoetig en gulsig. Hoop nie ek ontmoet hom op ‘n voetpad in Alaska of Kodiakeiland nie.
Die orca? Gevaarlik, natuurlik, maar uitsoekerig, en skyn nie eintlik homo sapiens (weet nie van homo poefterensis nie) op sy spyslys te hê nie. Ek hou van die orca, hy’s ‘n aantreklike vent met aansien.
Haaie – vir my die nagmerrie-ongedierte. Vreesaanjaend.
En ons eie vuilbaard? Die Koning van die Aarde. Soos ek al voorheen geskryf het: listig, sterk en hou daarvan om dood te maak. Maar nie sonder verdraagsaamheid nie as ‘n mens moet glo wat jy op die TV sien – daai ou wat met hulle stoei, of die Amerikanertjie wat hulle binne meters in die veld benader met sy kierie.
Die lys van tien laat ‘n paar menere uit. Eerste op my lys sou die luiperd wees. Hy is relatief baie dunner gesaai as die leeu, dog ek weet van meer luiperdaanvalle op mense as aanvalle deur leeu. Die KNP alleen kan in die afgelope tien jaar getuig van etlike slagoffers.
Dink jy nie die Bengaalse tier verdien ‘n plek nie? Byna ‘n kombinasie van leeu en luiperd, wat dan ook graag swem?
Die ergste van almal? Weer eens Australië met sy boks-jellievis, die miniatuur-seekat wie se naam ek vergeet, en die tregterspinnekop reeds genoem. Algar absoluut dodelik, en waar daar gewoonlik nie uitkoms is nie!
Dit dan my beskeie menings!
Nou-ja, daar het jy dit. Dankie Piet. Hy noem dit in sy brief tot toestemming vir verdere verspreiding ewe beskeie ‘n “bietjie algemene kennis wat uit uit ‘n lekebelangstelling kom, alledaags”.
Piet spreek ook die hoop uit dat dit nie “verontwaardiging uit ekspertekringe” sal lok nie.
Esksperte se toon, Piet. Hoop elke leser van die blog, ekspert of te nie, put dieselfde genot uit my vriend se kommentare as die uwe.
Naskrif: Piet verskyn Donderdag weer in die smerige klein magistraatshof op Chiredzi oor sy “besetting van staatsgrond(!)”. Kom ons hou almal duim vas dat reg en geregtigheid teen alle verwagting in sal geskied.
コメント