top of page
  • Uitmelkbos

GESPOOK OOR ‘N SPOOK

Spoke kan deksels moedswillig wees. Van daardie spesie openbaar glo die nare gewoonte om soos die spreekwoordelike dinges aan ‘n wolkombers aan sekere arme drommels te bly kleef, ondanks elke poging om uit hul kloue te ontsnap.

Almal ken tog seker die grappie van die spook wat só lekker gebly het. Hy (sy?) het die getraumaseerde gashere tot in hul sokkies geskok toe hy/sy ewe kontant onder die seil van hul treklorrie uitloer en aankondig: “Ek trek saam!”

Die moontlike alternatief van ‘n vroulike spook word hierbo gestel, omdat veral daardie geslag geeste glo knaend kan wees, soos dié vryerige ene van Uniondale wat al hoe lank fris manne tot jellie reduseer deur op alle moontlike en onmoontlike tye op donker Karoonagte by hulle in hul voortsnellende motors in te sweef – of skielik uit die niet op hul motorfietse saam te ry.

Die spook in my lewe was ook ‘n vrou, soos Uniondale se berugte teisteraar. Gelukkig kortstondiger. Anders as haar Karoo-suster had sy ook nie n lyflike teenwoordigheid nie. “My” spook had net ‘n stem; daarby ene met ‘n swaar Amerikaanse aksent.

Ek het van haar bewus geraak toe sy ‘n vriendin haar boeglam laat skrik. Die vriendin skakel my 021-nommer. Die telefoon lui en lui. Skielik sè die grafstem: “ Your call can not bet taken ….” Die oproeper word dan somber genooi om ‘n boodskap te laat.

Kyk, hierdie vriendin is betroubaar en sal nie sommer lieg nie. Maar van só ‘n stem wat skielik my inkomende oproepe “bestuur”, is ek salig onbewus. Van waar dan, en met watter bedoelinge? Ek lui my huisnommer met my selfoon net om doodseker re maak. Ja, waaragtig, hier praat die kultuurvreemde – teen my sin en wil.

Toe begin ‘n gespook van ure om van haar ontslae te raak. Ek bel om die beurt 10219 en 10217 en ek praat by Telkom se hulpdienste langs die hele alfabet af, beginnende by Abigail en eindigende by Zoë. Almal is hulpvaardig en probeer help. Party laat my allerlei vreemde kodes intik. Telkens is die stem egter terug.

Ene, Caroline, verstrek later selfs ‘n verwysingsnommer, só seker is sy van haar saak dat sy die stem uit my lewe verwyder het. Aikona. Ek sit met “my” spook. Eers by nommer agt (was dit Lisa of dalk Cindy?) hoor ek die verdoemende nuus ná n inspeksie ter plaatse/praatse: “Dis nie ‘n Telkom-boodskap nie.”

Nou wat de ongeluk dan? Kyk teen hierdie tyd is ek al omgekrap verby oor die eindelose gesukkel, en tel ek die koste van al die selfoonoproepe in my kop. Toe opper Tokkie ‘n teorie. En dalk gee ek my vrou te min krediet, want hierdie ene klink skielik nie ongeloofwaardig nie.

Net twee dae gelede het ons naamlik ‘n foontjie gekoop wat die ou man kan rond dra. Ene wat “als kan doen” wat ‘n selfoon doen. Dan hoef die uwe nie elke keer swaar uit sy bank op te beur as die telefoon lui nie. Het die koddige stem nie dalk met die nuwe instrument ongesiens die huis binnegesluip nie

Ek delf die boekie uit (“if all else fails read the instructions”), maar verstaan van goed soos ‘n “TAM menu” geen snars. Al manier wat ons kan bedink om Tokkie se teorie te toets, is om die ronddra-foon aan die muur te ontkoppel.

Dit werk! Die spook swyg.

Gisteraand daag hulp op in die vorm van iemand van ‘n jonger generasie, wat blykbaar instinktief weet watter knoppies om te druk om bepaalde funksies te aktiveer of de-aktiveer.

Daardie foon is weer op die lug. Maar tot siens, spookvrou! Wel te ruste!

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page