top of page
  • Uitmelkbos

Gesogte onderskeiding

Vra Desmond Painter: “’n Gesogte vergelyking?”

Hy verwys na die openingskoot in sy resensie van Abraham H. de Vries se Die behoue huis. Dit lui: “Abraham H. de Vries is die Bob Dylan van die Afrikaanse letterkunde.”

Natuurlik is dit nie gesog nie.

Dit is tog welbekend dat die hoogste vorm van literêre kanonisering dié een is waarin ‘n skrywer met Bob Dylan vergelyk word. Abraham H. de Vries het gewis Maandagoggend sy Burger oopgeslaan en dadelik om die kombuistafel gewals.

Sy drome is bewaarheid. Almal weet dit nou. Hy is die Bob Dylan van die Afrikaanse letterkunde. Niemand gaan daardie onderskeiding van hom kan weg neem nie.

Dit sit nie in almal se broeke om gunstig vergelyk te word met Bob Dylan nie. Die man wat as folk-sanger begin het, ‘n bietjie dagga gerook het en toe begin eksperimenteer het met elektriese begeleiding vir lirieke wat skielik effe surrealisties was. Daarna het hy van motorfietse afgeval, getrou, kinders gekry, kokaïen gesnuif en opgehou kokaïen snuif, die Christelike God gevind en Hom weer verloor toe hy die Joodse God teruggekry het. En toe op sy nimmereindigende konsertreis vertrek het, en in sy sestigs skielik weer ordentlike musiek begin maak. Met ‘n sterk klap van die blues weg. Intussen bietjie tussen vrouens rondgeval, maar steeds was liefde en hyself sy groot onderwerpe.

Watter skrywer sal nie met só ‘n mens vergelyk wil word nie?

Kyk, Desmond Painter se argument is miskien plek-plek nerfdun. Hy ken nie sy Dylan nie, om mee te begin. Ek moes nou amper twee dae spandeer aan die bespreek van Painter se resensie met mense wat hul Dylan goed ken. En aldrie van hulle sê vir my (‘n Dylan-ongeletterde) dat Painter ‘n baie lang kans vat as hy sê Bob Dylan het ná sy skeibrekery in die jare sestig “voortdurend enige trefseker onderskeid tussen folk en rock, of tussen tradisie en modernisme” ondermyn. Ek moet Painter net herinner aan Infidels en Empire Burlesque, sê hulle. Om net twee albums te noem. Daar’s glo heelwat meer vrottes, en baie wat absoluut niks en niemand ondermyn nie.

Maar om terug te kom na Abraham H. de Vries. Painter se analise van sy ontwikkeling as skrywer, en die goeie hoedanighede van sy kortkuns, is werklik goed. Min mense sal kan verbeter op die volgende: “Sy ernstige verhale word veral gekenmerk deur selfbewuste narratiewe eksperimente, metaforiese gelaagdheid, metonimiese verglydings, verwikkelde verstrengelings van werklikheid en fiksie, en elemente van fantastie.”

Boonop is Painter se agting vir De Vries se “ligter” vertellings baie gepas, want ook daarin sien mens ‘n literêre meester aan die werk. Volgens my bronne sou mens selfs sover kan gaan as om te sê die ligter verhale is De Vries se eie New Morning of John Wesley Harding. Terwyl “Siënese dagboek” sy “Simple twist of fate” is.

Die konserwatiewes onder ons sal seker sê Desmond Painter se opmerking is vergesog. Ek sê: dink weer!

Voorverlede jaar, tydens die Woordfees op Stellenbosch, was daar Afrikaanse literatore wat van die verhoë af verklaar het dat De Vries baie sterk aan die deur klop vir die Hertzogprys. De Vries het nou al sedert Die uur van die idiote nie ‘n enkele bundel kortverhale gepubliseer wat swak was nie. Sy peil is internasionaal mededingend.

Noudat ons weet hy is die Bob Dylan van die Afrikaanse letterkunde, maak dit nie meer saak nie. Die Hertzogprys maak nie meer saak nie. Wat het daai Hertzog-ou in elk geval gesing wat enigiemand buite sy vriendekring kan onthou?

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page