Soos elke oupa van wie ek weet (om van oumas nie te praat nie!) is hierdie ene behep met sy kleinkinders. Ek probeer dit net verbloem, want ek weet hoe irriterend dit kan raak.
Daarom sal ek darem nie, soos die oupa in die grappie, met ‘n pakkie foto’s in my binnesak in ‘n vliegtuig van ry tot ry loop op soek na ‘n sagte teiken vir wie ek die “unieke” wonderwerkies trots, met die nodige kleurryke kommentaar natuurlik, kan vertoon nie.
Wel neem ek die vrymoedigheid om hier op my eie blogruimte formeel aan te kondig dat Christopher Claassens, derde seuntjie van Brent en Marisa en boetie van die tweeling Jacob en Thomas, Saterdagaand, 24 Januarie 2009, ge-arriveer het. Dit het nogal vinnige voetwerk geverg nadat hy op ‘n troue in die Paarl sy voorneme te kenne gegee het.
Nietemin, Christopher het toe omstreeks 09:00 in die Panorama MediClinic sy opwagting gemaak, ‘n bondeltjie van 3,2 kg – ietwat meer as die tweeling se geamentlike geboortegewig!
Hoe reageer Jacob en Thomas? Die twee is erg ingenome met die nuwe “piepklein” boetie – al is hy “sonder tande”. Veral Jacob wil hom net vashou. Thomas staan egter nie ver agter met sy liefdevolle attensies nie. Hy het gister opofferend meegedeel dat hy sy sokkerbal in Christopher se kas gaan sit het!
Vir Oupa en ouma is Christophger die eerste kleinkind wat ons dadelik as pap babatjie kon optel en die lyfie teen ons kon voel. Die eerste twee is vinnig-vinnig uit die teater na die waakeenheid vir babas weggeboender en was vir wat na ‘n ewigheid gevoel het, in die beskermende kokonne van hul broeikaste.
Michael, pleegseuntjie van ons ander kinders, Johan en Mariza, het as amper tweejarige in hul lewens gekom. Die outjie is ‘n lewendige knaap, stuit vir g’n duiwel nie en is tuis soos ‘n vis in die water. Hy is hierdie week speelskooltjie toe, en dit geval hom klaarblyklik. Na die tweede dag was hy so ingeburger dat hy opsluit nie wou huis toe nie!
In elk geval, dit was mos John Vorster wat gesê het kleinkinders is God se geskenk aan ou mense. Dit is ‘n raak beskrywing. Hulle kruip in jou hart en verower dit stormenderhand.
As hulle so stroopsoet nes engeltjies vir die kamera poseer soos Jacob en Thomas – hulle word werklik in April al vyf – hier met Christopher op hul skoot swel die oupahart van uitermate vreugde en trots.
Comentarios