My vrou, Tokkie, veroorsaak hier, daar en oweral groot vrolikheid met haar beskrywing van my onwaardige uittog uit die safari-tentkamp naby Pretoriuskop waar ons verlede Woensdagaand oornag het.
Ek vertel maar die storie hier – al is dit ten koste van die uwe.
Die tente in daardie kamp is in rye ingepak. Jou motor moet jy aan die bokant parkeer en dan stap, maklik 100 meter ver tussen die tente deur tot by joune. Die oggend toe ons moet ry, reën dit. Tesame met die ou man se pyne lyk die afstand motor toe onbegonne.
Die taskarweier met sy vierwiel-veldfiets en Venterwaentjie minus deksel word opgekommandeer, maar weier eers ‘n passasier. Sy “manager” sal die stuipe kry.
Eindelik kry hy die ou man onder die wit badhanddoek (soos ‘n gesette Jasser Arafat, seg Tokkie) jammer. “Klim, Oupa, “gebied hy. Toe laat waai ons – met “oupa” (of Jasser) wat met die een hand klou vir ‘n vale. In die ander is sy kamera en verkyker.
Ek verneem na die Samaritaan se naam. Dit is Moses. En daar lei die swart Moses toe sowaar vir die gesette Jasser na die beloofde land!
Comentários