Blomme vir Margaret Wessels (1991)
In snerpende koue in die snerpendste Amerikaanse winter in jare – die “big freeze” het die media dit gedoop – het ek in Januarie 1977 in ons kelderwoonstelletjie in Crimson Court, Cambridge. Massachusetts, ure deurgebring voor die swart plastiekboksie, wat as die Van Deventers se TV-stel moes dien.
Ek was destyds Nieman Fellow aan die Harvard-universiteit, nogal ‘n taamlike status vir ‘n joernalis om te verwerf, maar ‘n beroepseer wat nie juis deur die bankrekening van die verwerwer weerspieël is nie. Ons huisgebondenheid had ook nog ‘n ander oorsprong: my tweedehandse Toyoto Corona Merk II-stasiewa (1992-model) was feitlik daardie hele Januarie op sy oop parkeerplekkie onder ‘n berg sneeu begrawe.
Nietemin, ons kyk toe maar op wintersaande TV op elke denkbare kanaal, en kom in die proses uit by ‘n wedstryd vir ‘n Mej. Junior VSA of iets, waarin van die kandidate, buiten om mooi te lyk, allerlei dieperliggende kwaliteite geverg word. Jy moes op die skerm jou talent ten toon stel – sang, klavier speel, enigiets. Jy moes in sport jou merk maak. Jy moes as leier na vore kom. Ensovoorts.
Foto-albums vir 1982 se finaliste
Dié opset het my geprikkel, en ek het die idee “vir eendag” in my agterkop gebêre. Daardie “eendag” het gekom toe ek in 1980 redakteur van Die Volksblad word. Dié koerant was in sy gemeenskap hoog geag, maar was tog by ‘n sekere seksie jong lesers as die “vaal Boertjie” bekend – n etiket wat hierdie 39-jarige nie geval het nie. In ‘n breë aksie om aan daardie “vaalheid” te ontsnap, is onder meer die Matrieknooiwedstryd gebore.
Ek is met die Amerikaanse konsep na wyle Wynand Mouton, rektor, en wyle Dawfré Roode, een van sy adjunkte, en hulle het die idee gekoop. Ons sou jaarliks begin soek na top-presteerders met vele fasette, en vir die wenner ‘n aanloklike studiebeurs gee.
Daardie boompie wat ons geplant het, het geil gegroei. Dat dit ná dertig jaar steeds groei en bloei, getuig seker dat die wortels gesond gevestig is. Eer en dank aan die res van die span boompieplanters, en eer en dank aan diegene wat die boompie in latere jare natgelei en sorgsaam vertroetel het.
Miskien klink dit onbeskeie, maar ek voel, hier aan die vooraand van my eie 70ste verjaardag, nogal groots oor wat van die Matrieknooiwedstryd geword het, en veral oor die ongelooflike massa intelligensie, talent en ander voortreflikhede wat die koerant en sy vennote deur die jare daarmee ontbloot en openbare erkenning laat kry het.
Later is seuns bygehaak – die soektog is nou na die Matrikulant van die Jaar, en verskeie wenners is van die skeermes-garde. Daaroor het ek my eie (bevooroordeelde) sienswyse – ‘n mooi matriekmeisie is altyd mooier as ‘n matriekseun! – maar ek verstaan die rasionaal. Suid-Afrika het baie verander van 1980 af, toe knap meisies nie juis met beurse oorval is nie.
Op ligter trant onthou ek die jaar toe ek Harold Verster, Vrystaatse rugbybaas, se mooi vrou, Erika, as Matrieknooi-finalis aangesien het. Ek was nogal verleë, hoewel ‘n mens dit tog as kompliment vir Erika kan sien. Ek was ook ‘n ander keer in die verleentheid: die jaar toe Minette Neuhoff van die Meisieskool Oranje ‘n kandidaat was. Die wenner daardie jaar was uit eie reg ‘n ster en waardige wenner. Ek glo egter steeds Minette is een van die beste kandidate in die dertig jaar wat onbekroon gebly het – en ek vrees daar was n bietjie suurlemoensous by ‘n swaargewig onder die beoordelaars.
Ongelukkig kan ek nie Saterdag die feesdinee in die verre Bloemfontein bywoon nie. Ek en Lukas Theron wat in die jare 90 as grootbaas van Phoenix Motors toegetree en ‘n Volkswagen Golf as wenprys geskenk het (Margaret Wessels was, terloops, die eerste Matrieknooi wat ‘n kar gewen het) sal bepaald hier op Melbosstrand ‘n heildronkie op die goue dertig jaar drink. Die here Van Deventer en Theron is weer ná al die jare lidmate van dieselfde gemeente (die NG gemeente Melkbosstrand) en vriende – sit juis op Vrydag 24 September op Braaidag hier langs die see ‘n vleisie saam op die kole.
Nog iemand met Matrieknooi-wortels woon net ‘n klipgooi van ons af. Sy is ds. Elmarie Wiesner, néé Dercksen) van die NG gemeente Bloubergstrand. Ja, ons wen-meisies het hulle in vele opsigte en op ‘n groot verskeidenheid van gebiede as buitengewoon gedug betoon!
Comentários