GROOT DAG – Naspers Beurs toe. Salie de Swardt, Ton en die uwe 18 jaar gelede.
Vyftien jaar gelede, met sy uittrede as uitvoerende voorsitter (hy het toe nie-uitvoerende voorsitter geword en Koos Bekker besturende direkteur), is oor Ton Vosloo ‘n video gemaak waarin dese en gene oor sy leierskap uitsprake lewer. In my bydrae het Confucius aangehaal: moenie in een leier alle eienskappe soek nie. My kommentaar was: Confucius het Ton Vosloo nie geken nie.
My bewondering was eg. Hierdie briljante oud-joernalis, wat sy lewe lank in wese joernalis gebly het, ‘n deurdringer sonder weerga tot die kern van die saak, het waarlik op elke denkbare terrein sy kant gebring om die Pers monumentaal uit te bou.
Sprekende as oud-redakteur, kon ek die grootbaas net lof toeswaai vir sy onwankelbare respek vir en sorgsame beskerming van die ruimte wat ‘n redakteur nodig het om na eie lig oordele te vel. As ‘n latere lid van sy bestuurspan, kon ek net verwondering oordra oor hoe hy, soos min ander, veranderinge geantisipeer het en gewoeker het om daarvoor voor te berei, onder meer deur die uitbouing van diversiteit en die klem op kwaliteit op elke terrein.
Op die vraag of geen kritiek dan teen dié man in te bring is nie, het ek vir my antwoord my teksvers geneem uit Jakobus 3 wat uitwei oor die beheersing van die tong. Ton het soms dalk net vrymoedig gedagtes met ander gedeel, het ek opgemerk. Ná ‘n rustelose nag het ek apologeties gaan mooi vra of ons dit nie maar kan laat uitbly nie. Dit het genadiglik uitgebly. Maar toe val my stukkie van Confucius ook van die redigeertafel!
In daardie tyd was daar ‘n inisiatief waarvan min weet. ‘n Groep Nasionale politici onder leiding van Johan (Kleppies) Heyns het Ton probeer werf as opvolger vir F.W. de Klerk aan die stuur van die NNP. Hulle het my as tussenganger gebruik, en verskeie klandestiene middagetes het by die Kaapse Seiljagklub plaasgevind. Ton was wys en wou nie byt nie.
Die laaste vyftien jaar was ek ver van die vuur. Ek kan my nie uitlaat oor Ton se rol in nuwe Pers-aksente wat vir hierdie ouderwetse waarnemer soms vreemd opval nie. Dit het wel nie ongemerk verbygegaan nie dat die voorsitter se nasionale statuur net duiselingwekkend bly groei het en dat die akkolades op hom bly neergiet het.
Daardie merkwaardige ander Pers-kolos, Piet Cillié – die man met ‘n raak storie vir elke geleentheid – het in 1984 met die afskeid van Lang David die Pers se kultuur om nie te hard oor eie prestasies te kraai nie, soos volg verduidelik:
“Wanneer die pers se resultate byna ongelooflik uitstekend is, dan sê ons dit was in geheel nogal bevredigend. Wanneer ons wil bars van sukses, dan sê ons saam met Harold McMillan na ‘n verpletterende sege by die stembus: “I think we did rather well.”
Oor Ton Vosloo sal my seker by die viering van hierdie bakenverjaardag op 29 September 2012 die toegewinkie gegun word om in daardie eufemistiese idioom ten slotte te deklameer: “I think he did rather well!”.
(Ton vier op 29 September sy 75ste verjaardag. Hierdie huldeblyk is wesenlik gegrond op ‘n vorige een in die gedenkboek “Ton van ‘n man” wat by Ton se 70ste op 29 September 2007 in beperkte oplaag uitgereik is.)
Comments